|

AfriForum is gereed om Afrikaanse skole te help wat deur die departement geboelie word

Die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) het vir die soveelste keer teenstand gekry. As hierdie wetgewing in sy huidige vorm aanvaar word sal dit die provinsiale onderwyshoofde in staat stel om aan openbare skole voor te skryf oor hul taal- en toelatingsbeleid en beheerliggame van sekere van hul besluitnemingsmagte ontneem.

ANC-LP’s in die portefeuljekomitee oor basiese onderwys moes onder druk van opposisie LP’s swig en instem om 6 000 tot 9 000 onverwerkte skriftelike voorleggings oor die wetgewing te oorweeg.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sal die Bela-wet as’t ware demokraties verkose beheerliggame wat die skoolgemeenskappe verteenwoordig, muilband – net soos die mense wat moeite gedoen het om insette oor die wetsontwerp te gee, byna stilgemaak is.

“Dit is ’n aanduiding van die regerende party en sy vennote se magsug en minagting vir die mense wat hulle veronderstel is om te dien.”

AfriForum het verneem van verskeie Afrikaanse skole wat onder groot druk verkeer om meer klasse te akkommodeer ongeag daarvan of hulle oor die fasiliteite beskik om vir meer leerders plek te maak.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) probeer deur dreigbriewe plek skep in skole wat nie bestaan nie en oor die afgelope 20 jaar nie deur die regering gebou is nie.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

Volgens die SOS het heelwat Afrikaanse skole in Gauteng briewe ontvang waarin hulle gedruk word om soveel as 25% leerders meer as waarvoor hulle kapasiteit het in te neem. Volgens Buys sal hierdie getalle leerders se veiligheid en die kwaliteit van hul onderrig in gedrang bring.

“Dit is kommerwekkend dat die provinsie miljarde rande wat deur die jare toegeken is om meer skole te bou, nie spandeer het om voldoende kapasiteit in skole te skep nie. Die SOS eis dat die GDO inligting bekend maak op grond waarvan hulle die kapasiteit van skole soveel hoër as bereken as die bestaande syfers.”

Bailey meen dat die deurvoering van die Bela-wet in sy huidige vorm en die druk wat tans op funksionerende skole in Gauteng toegepas word ’n groot bedreiging vir Afrikaanse moedertaalonderrig inhou. Ouers verkies dikwels om nie hul kinders na die naaste skool toe te stuur nie aangesien dit wanfunksioneel is en verstaanbaar ’n plek in ’n skool soek waar die skool wel kwaliteit onderrig verskaf.

“Wanneer dit nie slaag nie, spoor dit nie die departement aan om aanspreeklik te wees en skole reg te ruk nie, maar word allerlei populistiese uitlatings gemaak, soos om te beweer dat Afrikaanse enkelmediumskole die oorsaak van die probleem is,” sê Bailey.

’n Ander alternatief is om Afrikaanse skole te dwing om vir Engelse leerders in parallel- of dubbelmedium onderrig plek te maak. Plaaslik en internasionaal is dit al herhaaldelik bewys dat hierdie opsie daartoe lei dat die skool uiteindelik na die dominante taal oorskakel.

Buys se raad aan skole wat hierdie dreigende briewe ontvang het, is om dadelik op skrif weer die kapasiteit volgens die professionele kapasiteitsbepaling reg te stel. AfriForum raai beheerliggame aan om eers die knelpunte met hulle kringbestuurder en ander gemagtigde amptenare van die departement direk op te neem en rekord van die gesprekke te hou. Indien dit nie werk nie wil AfriForum graag help.

Enige navrae in die verband kan gestuur word aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings