|

Vullisterreinoudit: Oos-Kaapse vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie.

Die situasie in die Oos-Kaap is soortgelyk aan die res van die land, aangesien net twee van die 10 vullisterreine wat in die provinsie geoudit is aan die minimum (80%) wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die vullisterrein in Cradock het aan 90% van die ouditvereistes voldoen, terwyl ’n vullisterrein in Oos-Londen, wat boonop sonder ’n permit bedryf word, aan 84% van die ouditvereistes voldoen het.

Só vergelyk die vullisterreine in die Oos-Kaap:

Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die Suidstreek, sê hoewel twee vullisterreine uitstekend gevaar het, kon die res nie die mas opkom nie. Twee vullisterreine kon selfs net aan 2% van die ouditvereistes voldoen het. “’n Algemene probleem wat AfriForum tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat vullisterreine totaal en al wanbestuur word. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word nie.”

Die situasie in die provinsie kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié area. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen die Oos-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings