|

Kaderontplooiing: Hof keur as’t ware sistemiese onreg goed

Die aansoek om kaderontplooiing ongrondwetlik te verklaar, is vanoggend in die Gautengse Hooggeregshof van die hand gewys – ’n besluit wat volgens AfriForum as’t ware ’n goedkeuring van die ANC se beleid van kaderontplooiing is. Die hof se ontnugterende besluit moedig dus ooglopende en sistemiese onreg aan en derhalwe diskriminasie op grond van politieke affiliasie. Die burgerregteorganisasie het as vriend van die hof opgetree in ’n saak waarin die Demokratiese Alliansie (DA) gevra het dat kaderontplooiing as ongrondwetlik en onwettig verklaar moet word.

AfriForum hou steeds vol dat kaderontplooiing werksgeleenthede ontneem van diegene wat nie ANC-lede is nie, dat dit strydig is met die Grondwet en dat die misbruik daarvan reeds verskeie katastrofes, insluitende grootskaalse korrupsie en staatskaping, tot gevolg gehad het.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is kaderontplooiing die politieke enjin waardeur die ANC verseker dat sy beleid tot op die verste eindpunte van die openbare sektor uitgevoer word.

“Die hof het vandag die deur wawyd oopgelaat sodat die ANC nou blatant van hul kommunistiese onderrok ’n borok kan maak,” sê Boshoff.

In skrille kontras met vandag se beslissing, het die Konstitusionele Hof vroeër vandeesmaand in ’n uitspraak die ANC verplig om alle rekords sedert 2013 van sy kaderontplooiingskomitee aan die DA te oorhandig.

Boshoff verwoord AfriForum se teleurstelling met vandag se hofuitspraak soos volg: “Die ANC het nou die geleentheid om die reeds dowwe skeidslyn tussen regering en regerende party heeltemal uit te vee en die weg vir verdere diskriminasie en selfverryking te baan.”

AfriForum sal voortgaan om die beleid van kaderontplooiing teen te staan en gepaardgaande korrupsie te onthul.

Indien vandag se uitspraak op appèl geneem word, sal AfriForum verder deelneem aan die hofgeding.

Soortgelyke plasings