|

Vyftien ton teer vir herstel van pad voor Laerskool Anton van Wouw

Twee dae en 15 ton teer later is die haglike toestand van die pad voor ’n Pretoriase laerskool uiteindelik herstel. AfriForum het gister en vandag (23 en 24 November 2023) hierdie reusetaak aangepak nadat verskeie versoeke uit die gemeenskap vir die herstel Deystraat voor Laerskool Anton van Wouw, in Nieuw Muckleneuk, ontvang is. 

Volgens Chris Henning, skoolhoof van Laerskool Anton van Wouw, sukkel die skool al ’n geruime tyd lank om dié vervalle pad te laat herstel. Hulle het al die regte kanale gevolg, maar was telkens onsuksesvol in hul pogings. Vandeesweek se projek, waartydens AfriForum ingegryp het om hierdie pad te herstel, was egter ’n sukses. Henning het sy dankbaarheid teenoor AfriForum uitgespreek vir die herstel van die pad wat nou weer veilig is vir motoriste – en derhalwe ook die leerders.

Altesaam is 15 ton teer op ’n totale oppervlak van 154 m2 gebruik om dié pad sowel as dele van die sypaadjies voor die skool, te herstel. Die totale koste van die projek beloop nagenoeg R85 000.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria Noord, sal dié burgerregteorganisasie voortgaan om gemeenskappe by te staan en projekte van dié aard van stapel te stuur. “Dit is vir ons ’n voorreg om Laerskool Anton van Wouw te kon help in dié verband en sodoende die waarde van selfdoen te beklemtoon,” verduidelik hy.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum en wees deel van dié organisasie se selfdoen-oplossings. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings