|

Waar staan ons nou met die BELA-konsepwet?

Dat wetgewing in Suid-Afrika dikwels jare neem om aanvaar en geïmplementeer te word, word bewys deur die lang pad wat die kontroversiële Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-konsepwet) sedert 2017 volg.

In Oktober 2023 is dit deur die nasionale vergadering aanvaar. Nou dien dit voor die nasionale raad van provinsies. Hierdie raad kan ook besluit om dit te aanvaar, of dit wysig en aanvaar, of dit afkeur, of nog ’n rondte van openbare raadplegingsessies aankondig. Indien die raadslede op die laasgenoemde besluit, kan die raadpleging moontlik skriftelik, of tydens openbare byeenkomste geskied.

Wat beteken dit vir ons as gemeenskap, ouers en onderwyspersoneel?

In die eerste plek dat niks nog finaal is nie, maar tweedens, dat ons ook nie nou ons waaksaamheid mag verslap nie.

Hierdie wetsontwerp bedreig die toekoms van Afrikaanse skole en gehalteonderrig direk. Trouens, verskeie kenners het dit al as die grootste bedreiging vir Afrikaanse skole die afgelope eeu beskryf. Dit sal inmeng met ouers en gemeenskappe se reg om self oor die taal- en toelatingsbeleide van skole te besluit en sentreer net al meer mag in die hande van die staat. Verder lyk die toekoms selfs vir tuisonderrig duister as dit in die huidige vorm aanvaar word.

Indien enige geleentheid opduik waar ons (met ander woorde die publiek) die geleentheid kry om weer kommentaar daarop in te dien, is dit noodsaaklik dat ons almal moet reageer en die geleentheid om daarteen beswaar te maak, moet aangryp. AfriForum sal help met die prosesse wat gevolg sal kan word.

Hierdie is ons laaste onderwysnuusbrief tot 2024. Hou dus asseblief AfriForum se sosiale media- en ander nuuskanale dop om op hoogte van verwikkelinge in dié verband te bly. Dit is nie onmoontlik dat sulke prosesse in Desember of Januarie aangekondig mag word nie, aangesien die ANC probeer om hierdie wetgewing deur te stoomroller voor die verkiesing van 2024.

Die toekoms van ons kinders en ons taal is op die spel, help ons asseblief om BELA te stuit!

Soortgelyke plasings