|

Waterbesnoeiing: Rand Water dalk in warm water oor onwettige praktyk

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Rand Water – die grootste waterverskaffer in Afrika – kan moontlik in die hof koppe stamp nadat Rand Water watervoorsiening na verskeie munisipaliteite verminder het. Die volgende munisipaliteite word hierdeur geraak: Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en Lesedi Plaaslike Munisipaliteit in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit in Gauteng; Rand West City Plaaslike Munisipaliteit en Merafong City Plaaslike Munisipaliteit in die Wes Rand-distriksmunisipaliteit in Gauteng; en Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit  in Mpumalanga. Hierdie praktyk word deur Rand Water geïmplementeer weens dié munisipaliteite se agterstallige skuld wat altesaam ongeveer R3 miljard beloop.

Rand Water het die watervoorsiening reeds verlede week gesny. Nou dreig hy om watervoorsiening verder te verminder indien die skuld nie vereffen word of betalingsooreenkomste teen 25 Maart gehoorsaam word nie.

AfriForum se regspan het ’n dringende aanmaning aan Rand Water gestuur sodat hierdie wanpraktyk gestaak word en dat die gemeenskappe die nodige water ontvang. In die meeste gevalle betaal verbruikers hul waterrekeninge getrou aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om dit aan Rand Water oor te betaal.

“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg soos voorgeskryf in artikel 27 van die Grondwet en hierdie wanpraktyk van Rand Water dreig om hierdie reg te skend. AfriForum het reeds in 2023 ’n hofbevel in die Hooggeregshof in Pretoria gekry wat soortgelyke skuldinvordering deur Rand Water onwettig en ongrondwetlik verklaar. Ons is daarom baie verbaas dat ’n soortgelyke strategie nou gevolg word en sal nie skroom om die hof te nader om die huidige praktyk van waterbesnoeiings wat Rand Water toepas, ter syde te stel nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, kan Rand Water nie agter ’n kontraktuele remedie skuil en ’n onbillike proses volg deur hul besluit om watervoorsiening te verminder nie. “Rand Water neem dié besluit – wat grootskaalse skade aan gemeenskappe kan aanrig – in die afwesigheid van enige openbare deelnameproses. Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie,” sê Mostert.

“Ons kan nie toelaat dat geskille tussen staatsorgane ons gemeenskappe negatief beïnvloed nie. Munisipaliteite veroorsaak hierdie probleem as gevolg van wanbetaling, maar remedies en meganismes moet egter gebruik word om skuld in te vorder wat nie mense se grondwetlike regte skend nie. AfriForum sal al sy opsies oorweeg om te verseker dat hierdie wanpraktyk gestaak word,” sluit Coetzee af.

Soortgelyke plasings