|

Wenners aangewys in Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

AfriForum Sakenetwerk het op 26 en 27 Oktober 2021 in samewerking met Akademia, Pretoria FM, Steyn IP en Bok Radio die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie by die Mongena-wildsplaas buite Pretoria aangebied. Tydens dié spoggerige geleentheid is Elzabeth van der Bijl en Alita du Plessis onderskeidelik as wenners in dié kompetisie, wat sedert 2017 aangebied word, aangewys.

Van der Bijl is die eienaar van Fynbos en is aangewys as wenner van vanjaar se kompetisie in die kategorie entrepreneurs wat tussen een en sewe jaar handeldryf. Dié unieke boetiek het takke in George en Durbanville en danksy Van der Bijl se dryfkrag en vermoë om geleenthede raak te sien, het sy in ’n kort tydperk reeds baie vermag. Haar ouma is die groot inspirasie agter Fynbos en volgens Van der Bijl het sy haar ook geleer dat mode nie altyd mooi is nie, maar mooi is altyd mode.

Du Plessis van Purple Carrot, ’n juwelereeks van vlekvryestaal, is ook tydens die kompetisie aangewys as die wenner in die kategorie entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf. Haar onderneming is begin juis omdat sy vir alle ander metale allergies was en na ander opsies begin kyk het. Sy het agente landwyd en haar mededingende voordeel is ook dat haar produk bekostigbaar is.

Tydens die kompetisie het finaliste van beide kategorieë voorleggings aan ’n uitgesoekte paneel voorgelê. Die finaliste en beoordelaars is ook gevra om ’n wenner aan te wys vir die toekenning netwerker van formaat. Michelle Britz van Michelle se Kombuis in Ficksburg het dié eer te beurt geval. Sy het tydens die droogte begin kook vir ’n ekstra inkomste en kort voor lank het mense by haar ingeloer vir nog.

Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie vir die kategorie tussen een en sewe jaar handeldrywend was Jaco Gerrits (internasionaal bekroonde tegnologiese entrepreneur), Divan Botha (mede-eienaar van The Wippet in Linden en aanbieder van Winslyn wat op kykNET uitgesaai word), Minette van der Walt (inhoudsregisseur van onder meer Winslyn), Nilo Thiart (uitvoerende direkteur by onder meer Kwikstert) en Marita Bezuidenhout (eienaar van Magies vol Liefde en Entrepreneur van die Jaar-wenner in 2019).

Beoordelaars vir die kategorie entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf was dr. Rachel Maritz (dekaan by die fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia), Henk Schalekamp (’n gemeenskapsentrepreneur en uitvoerende hoof van Kanton), en Chris du Plessis (konsultant, finansiële adviseur, boer en sakeman).

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê hoewel daar groot pryse op die spel is, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. “Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosialemediaplatforms versprei, asook op nuusplatforms soos Pretoria FM, Nuuspod en op Forum Nuus en in Forum Tydskrif. Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees.” Sy voeg by dat die finaliste in vanjaar se kompetisie bewys het dat hulle ondanks uitdagings rondom COVID-19 en danksy hul harde werk steeds die vrugte van hulle arbeid kon pluk.

Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van dié Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar nóg groter en beter raak. “Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang. Ons sien uit om die kompetisie volgende jaar verder uit te bou en kennis te maak met nóg entrepreneurs wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak.”

Soortgelyke plasings