AfriForum kritiseer ekonomies verwoestende wysigings aan Maatskappyewet

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag kommentaar by die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging ingedien nadat Ebrahim Patel, minister van dié departement, in die Staatskoerant nr. 45250 van 1 Oktober 2021 versoek het dat kommentaar oor voorgestelde wysigings aan die Maatskappyewet ingedien word.

AfriForum wil dit onomwonde stel dat dié organisasie die doelstellings insien en ondersteun om 1) aandag te gee aan Suid-Afrika se uiterste ongelykheid in die samelewing en aan die behoefte aan groter deursigtigheid, en 2) om korrupsie in alle sfere in finansiële handel te bestry. AfriForum is van mening dat die doelstellings met eerste oogopslag wel edel voorkom, maar dat die voorgestelde wysigings nie hierdie doel sal bereik nie en tot ’n legio ander probleme sal lei wat die departement nie oorweeg het nie. AfriForum gee aandag aan drie groot kwessies in sy kommentaar:

  1. Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) sal die maatskappy-aandeleregisters aan enige persoon beskikbaar kan stel “soos voorgeskryf”. Boonop gaan daar ook ’n openbare register van aandeelhouers in alle geregistreerde maatskappye gehou word. Dit maak die deur oop vir meer regeringsinmenging in die eienaarskap van maatskappye.
  1. Ingevolge die voorgestelde wysiging sal die Maatskappyetribunaal die bevoegdheid hê om sake oor breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) aan te hoor wat vanaf die BBSEB-kommissie verwys word. Die Maatskappyetribunaal sal BBSEB dus meer bindend en verpligtend kan maak. Dit is ’n kommerwekkende gevolg.
  1. Maatskappye sal verplig word om aan te dui wie hul grootste salarisverdieners is, die kleinste, die gemiddelde salaris asook die gaping tussen die boonste en onderste 5%.

AfriForum versoek Patel om die moontlike verreikende gevolge te oorweeg wat die wysigings kan veroorsaak, veral die bogenoemde drie kwessies.

“Geen wet behoort aanvaar te word as dit die geskeie regspersone van maatskappye verontagsaam deur die korporatiewe sluier onregmatig te lig nie. Wysigings moet ook vermy word indien dit groeiende onrus vererger by maatskappydirekteure en -bestuurders wat die land se ekonomie aan die gang hou, of as dit funksionele en winsgewende sakemodelle met onakkurate vergelykings belemmer – selfs al word dit goed bedoel. Dit sal beleggers bloot noop om die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van hul finansiële posisie in Suid-Afrika onder heroorweging te neem. Hoogs geskoolde werkers sal ook hul toekomstige loopbaanvooruitsigte in die land met dié in ander lande vergelyk,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Die publiek word versoek om teen 31 Oktober 2021 kommentaar op die wysigings in te dien. AfriForum doen ook ’n beroep op die publiek om hul stem te laat hoor deur https://afriforum.co.za/mymaatskappyismyne/ te besoek.

Soortgelyke plasings