|

AfriForum se Lichtenburg-tak herstel 124 slaggate in net 11 dae

AfriForum se Lichtenburg-tak het in net 11 dae 124 slaggate in twee strate in dié dorp herstel. Vanaf 4 tot 14 September het die tak die swetterjoel slaggate in Greeff- en Lettiestraat met 220 sakke teer gevul en met een drom ss60 bitumen-emulsie verseël. Dit bring die totale getal slaggate wat hierdie AfriForum-tak vanaf Junie vanjaar in Lichtenburg herstel het, op meer as 300 te staan. ’n Totaal van 462 sakke teer – oftewel meer as 11,5 ton teer – is in dié tyd gebruik om Lichtenburg se paaie mee op te knap.   

“Greeffstraat is geleë in ’n belangrike deel van Lichtenburg se sake- en opvoedkundige sentrum en juis daarom is die herstel van slaggate hier van kardinale belang vir die gemeenskap. Die herstel beteken ook minder skade aan ons voertuie, vlotter verkeersvloei en ’n meer aantreklike dorp,” sê Pine Pienaar, slaggat-projekleier vir AfriForum se Lichtenburg-tak. “Hierdie projek is ook nie net van belang vir die verbetering van padveiligheid nie, maar het ook ’n dieper impak op die lewensgehalte van ons inwoners en die algehele welstand van ons dorp.”

Volgens Pienaar word die slaggate-projek op Lichtenburg nie deur ’n span werkers aangepak nie, maar deur ’n gemeenskap wat saamstaan en saamwerk om ’n beter toekoms te bou. “Dit is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer ons saamwerk. Ek wil graag die hele span bedank wat hieraan deelgeneem het, asook NWK Lichtenburg vir die gebruik van die nodige masjiene en die Lichtenburg-teerprojek vir die skenking van teer. Hierdie projek wys dat ons, as gemeenskap, die krag het om ons omgewing te verbeter en ’n positiewe verskil te maak in ons gemeenskap. Laat ons voortgaan om saam te werk en ons gemeenskap te versterk,” sluit Pienaar af.

AfriForum Lichtenburg-tak daag besighede en individue uit om teer te skenk en ’n spesifieke straat vir die herstel van slaggate te nomineer. Kontak vir Pienaar by 082 371 5312 vir meer inligting of om by die projek betrokke te raak.

Inwoners van Lichtenburg word ook aangemoedig om by die tak aan te sluit. Sluit aan by www.afriforum.co.za of skakel Steyn Kearny, Lichtenburg-takvoorsitter, by 082 803 3628.

Soortgelyke plasings