| | |

WENNERS VAN AFRIFORUM SE BESIGHEIDSBYTJIES-ENTREPRENEURSKOMPETISIE 2020 AANGEKONDIG

AfriForum en AfriForum Sakenetwerk het in 2019 besluit om ’n kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Vanjaar is daar besluit om die kompetisie verder uit te brei sodat hoërskoolleerders in graad 8 en 9 ook aan die entrepreneurskompetisie kan deelneem.

Die doel van hierdie kompetisie is om jong kinders se entrepreneursvaardighede reeds vroeg te begin ontwikkel. AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hul leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Die kinders van vandag is immers die leiers van die toekoms en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.

“Ons wil ook baie dankie sê aan ons twee borge van die kompetisie: Pretoria FM wat as ons mediavennoot optree en Akademia,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskapsontwikkeling.

Die inskrywings het op 1 April 2020 geopen en het weer op 30 Oktober 2020 gesluit. Elke leerder wat aan die kompetisie deelneem word deel van die Byekorf. Die kompetisie het aanlyn by www.besigheidsbytjies.co.za plaasgevind en leerders kon in die gemak van hul eie huis inskryf. Die publiek het in November die geleentheid gekry om vir hul gunstelingentrepreneur te stem waarvan hul stemme 50% van die totale stemme tel en die beoordelaars het op 27 November 2020 die deelnemers beoordeel wat die ander 50% bepaal.

Daar is groot pryse op die spel:

  • Kategorie 1 (Graad 1–3): Wenner + R5 000 kontant en ’n Samsung Galaxy Tab E 9.6 ter waarde van R3 500 vir die leerder of wenspan. Naaswenner + R2 500 kontant en ’n koordlose luidspreker (JBL Flip) ter waarde van R1 400 vir die leerder of wenspan.
  • Kategorie 2 (Graad 4–7): Wenner + R7 000 kontant en ’n Samsung Galaxy Tab E 9.6 ter waarde van R3 500 vir die leerder of wenspan. Naaswenner + R3 500 kontant en ’n koordlose luidspreker (JBL Flip) ter waarde van R1 400 vir die leerder of wenspan.
  • Kategorie 3 (Graad 8–9): Wenner + R10 000 kontant en ’n Samsung Galaxy Tab E 9.6 ter waarde van R3 500 vir die leerder of wenspan. Naaswenner + R5 000 kontant en ’n koordlose luidspreker (JBL Flip) ter waarde van R1 400 vir die leerder of wenspan. Akademia gee ook ’n rugsak weg vir Kategorie 3 se wenners.

Baie geluk aan die wenners:

  • Kategorie 1 (grondslagfase):

Wenner: Kian Smuts (Sywurms vir Afrika), Laerskool Pretoria-Oos

Naaswenner: Estehan Kruger (Braai Akker), Laerskool Brentwoodpark

  • Kategorie 2 (intersenfase):

Wenner: Jayden en Petri Barnard (Stertswaai), Laer Volkskool Heidelberg

Naaswenner: Pedrie Smith (Pedrie se Motorhuis-houtwerke), Laerskool Onverwacht

  • Kategorie 3 (hoërskole – graad 8 en 9):

Wenner: Elsa Vermooten (Smul), tuisskool

Naaswenner: Franco Maree (DieNes), Hoërskool Oos-Moot

Kyk gerus uit vir volgende jaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie en skryf gratis in. Jy kan ook ’n kans staan om wonderlike pryse te wen om dalk in jou besigheid te belê.

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za en laai ons Besigheidsbytjiesgids gratis af.

Soortgelyke plasings