|

Wêreld kyk met nuwe oë en belangstelling na Suid-Afrika se krisisse én oplossings

Verteenwoordigers van twee instellings in die Solidariteit Beweging, AfriForum en die Afrikanerstigting, het vandeesweek die National Conservatism-konferensie (NatCon 4) in die Amerikaanse hoofstad, Washington, DC, bygewoon. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, is as gasspreker na dié konferensie genooi. Roets het in sy toespraak klem gelê op die Solidariteit Beweging se selfdoensuksesse en die Weste se herontdekking van die Afrikanergemeenskap.

Hy het ook daarop gewys dat Afrikaners, ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), ontdek het dat gemeenskapsinstellings die mees volhoubare wyse is waarop ’n toekoms vir die gemeenskap verseker kan word. In die tweede helfte van die twintigste eeu het Afrikaners se klem egter verskuif van die bou van gemeenskapsinstellings na die bou van ’n sterk staat om oplossings vir die land se probleme te vind. In die afgelope paar dekades het Afrikaners weer die krag van gemeenskapsinstellings herontdek.

“In hierdie verband,” sê Roets, “kan die res van die wêreld baie by Afrikaners leer.” Hy het in sy voorlegging verduidelik dat ’n gemeenskap slegs deur sy instellings floreer en dat sterk instellings ’n gemeenskap kan bemagtig – selfs al is die staat hulle nie goedgesind nie.

Benewens Roets se voorlegging, het hy en AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, verskeie gesprekke gevoer en vergaderings gehou met meningsvormers, politici en organisasies wat belangstel in dit wat in Suid-Afrika aangaan en hoe veral minderheidsgroepe, soos Afrikaners, op omstandighede in die land reageer.

Volgens Van Zyl het daar, in dit wat Suid-Afrika en Afrikaners betref, ’n duidelike verskuiwing in die internasionale tydsgees plaasgevind.

“Tien jaar gelede het diegene wat ons internasionaal teëgekom het, min van Suid-Afrika se krisisse geweet. Vyf jaar later het hulle begin om van sommige van die krisisse bewus te word en wou dit in meer diepte bespreek. Vandag is hulle bewus van die krisisse en die omvang daarvan en nou stel hulle in ons oplossings belang,” sluit Van Zyl af.

Roets en Van Zyl vertrek op 17 Julie na New York vir die amptelike Amerikaanse bekendstelling van die Afrikanerstigting. Verdere vergaderings en afsprake met gevestigde en voornemende vriende van Afrikaners sal ook hier onderneem word.

Die Afrikanerstigting is ’n nuwe instelling uit die kraal van die Solidariteit Beweging. Die stigting is daarop gemik om daadwerklike steun vir die werk van die beweging se instellings vanuit die buiteland te mobiliseer.

Soortgelyke plasings