Wêreldvleilanddag: AfriForum loods skoonmaakaksie in Moreletakloof-natuurreservaat


As deel van Wêreldvleilanddag het AfriForum op 2 Februarie 2019 die vleiland in die Moreletakloof-natuurreservaat skoongemaak. Die onlangse swaar reënbuie het hope vullis in die stormwaterkanale afgespoel, wat deur die spruit tot in die vleiland gevoer is. Sowat tien sakke vullis is tydens die aksie opgetel.

“Vleilande is van kardinale belang omdat dit soos natuurlike damme funksioneer. Tydens swaar reën en donderstorms absorbeer vleilande die water en stel dit dan weer stadig deur die loop van die jaar vry. Sonder vleilande spoel dié afloopwater dus onmiddellik weg en gaan verlore. Vleilande beskik ook oor die vermoë om die hewigheid van vloede en droogtes deur die regulering van stroomvloei te verminder,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake.
AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by die organisasie se inisiatiewe wat ten doel het om na die omgewing in die gebied om te sien en dit skoon hou. “Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is reeds vernietig of toon agteruitgang. Ons as mense is verantwoordelik om ons vleilande te bewaar en sodoende te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer,” sluit De Klerk af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om soortgelyke AfriForum-aksies te ondersteun.

Soortgelyke plasings