|

Wetsontwerp oor rassisme sal ANC rolspeler én skeidsregter maak

Deur Jhua- Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy voorbehoud uitgespreek oor die Wetsontwerp oor die Voorkoming en Bestryding van Haatsmisdade wat gister deur die kabinet goedgekeur is.

Jeff Radebe, minister in die presidensie, het tydens ʼn mediakonferensie gesê die kabinet het dié wetsontwerp goedgekeur en dat dit nou beskikbaar gemaak sal word vir openbare kommentaar.

Volgens Radebe het die wet ten doel om die toenemende aantal rassevoorvalle te takel deur enige gedrag wat as rassisties bestempel word, of wat rassisme bevorder, te kriminaliseer. Hy het ook gesê dat dié konsepwet in ooreenstemming is met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat die behoefte aan veldtogte teen onder meer rassisme, seksisme en xenofobie bevorder.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die burgerregte-organisasie bekommerd dat die wet moontlik op ʼn selektiewe wyse toegepas sal word, soos wat blyk uit verskeie uitsprake deur ANC-woordvoerders.

Hy meen dat hoewel AfriForum sterk daaroor voel dat rassisme beveg moet word, die ANC reeds bewys het dat hy nie tussen staat en party kan onderskei nie.

“Die ANC is ʼn aktiewe rolspeler in die rassisme debat. As die staat gaan begin om rassisme, wat ʼn sosiale kwessie is, te reguleer, gaan dit effektief beteken dat die ANC beide rolspeler en skeidsregter gaan wees.”

Roets sê voorts dit is ʼn slegte idee vir regerings om by die regulering van sosiale kwessies in te meng. Hy meen dat hoewel rassisme ʼn groot probleem is, daar veel groter probleme is wat gepak moet word.

“AfriForum is van mening dat rassisme as‘t ware die simptoom van vele ander probleme is en dat indien die onderwysstelsel, misdaad, politieke leierskap en werkloosheid groter aandag kry, rassisme by implikasie minder van ʼn probleem sal wees.”

Hy sê voorts dat die burgerregte-organisasie die konsepwet sal bestudeer en sal deelneem aan die openbare konsultasieprosesse. Hy moedig die publiek aan om dieselfde te doen.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) het vroeër aan Forum Nuus gesê dié wetsontwerp sal net ʼn illusie skep dat daar geen rassiste in die land is nie.

Volgens die SAIRV is ʼn nuwe wet wat fokus op rassisme nie nodig nie, omdat die Grondwet dit klaar duidelik stel wat haatspraak behels en crimen injuria reeds voorsiening maak vir die vervolging daarvan.

Die instituut meen voorts die nuwe Wetsontwerp kan inbreuk maak op vryheid van spraak, wat ʼn kernbeginsel van ’n demokrasie is. Volgens die instituut spruit rassisme en gewelddadige protesaksies uit swak ekonomiese omstandighede, ʼn mislukte onderwysstelsel en bemagtigingsbeleide wat slegs ʼn klein groepie mense bevoordeel. Swak ekonomiese omstandighede veral lei tot frustrasie en ontevredenheid onder landsburgers.

Lees ook hier AfriForum se 15 redes waarom die ANC se wetsontwerp oor rassisme ’n slegte idee is.

Soortgelyke plasings