|

Witrivier-buurtwag help om gesteelde voertuig en verdagtes op te spoor

Lede van die AfriForum-buurtwag in Witrivier het op 22 Junie in samewerking met BlackWater Security twee verdagtes aangekeer wat in ’n gesteelde voertuig gery het. Dit volg nadat die buurtwag om 17:25 inligting van ’n gesteelde voertuig in die Witrivier-omgewing ontvang het. Buurtwaglede en lede van BlackWater Security het op die inligting gereageer en die rowers agternagesit.

Die gesteelde voertuig is voorgekeer en die polisie is na die toneel ontbied. Die twee verdagtes is aan die polisie oorhandig. Die polisie het die gesteelde voertuig en een vuurwapen gekonfiskeer.

“Hierdie is net weereens ’n bewys dat spoedige reaksie en samewerking tussen veiligheidsrolspelers die sleutel tot veiliger omgewings is. Dit is lekker om te weet dat ons op ons gemeenskap kan staatmaak om misdaad die hoof te bied,” sê Theo Bezuidenhout, AfriForum se Witrivier-takvoorsitter.

AfriForum se Witrivier-buurtwag bedank die volgende rolspelers vir hulle volgehoue hulp in die geveg teen misdaad: ADT Fidelity-lugvleuel, ADT Fidelity, BlackWater Security, die SAPD in Witrivier en die Witrivier-gemeenskapspolisiëringsforum.

Die AfriForum-buurtwag in Witrivier nooi lede van die publiek uit om deel te word van dié buurtwag om sodoende die gemeenskap te beskerm. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings