|

Worcester-buurtwag maak verskil gedurende Mei

AfriForum se Worcester-buurtwag het op 26 Mei ’n onbekende man gehelp wat sy been gebreek het. Louis Conradie, ’n buurtwaglid, het dié man omstreeks 03:30 op die sypaadjie voor ’n brug by Breërivier Bottelering sien lê. Die man kon niemand kontak nie aangesien sy selfoon se battery pap was. Conradie het dadelik ’n ambulans ontbied en by die man gewag totdat die ambulans opgedaag het en hom hospitaal toe kon neem.

“Ek is bly dat ek die man kon help; dit was ontsettend koud daardie oggend en hy was in geweldige pyn,” sê Conradie.

Op 12 Mei het Worcester-buurtwaglede om ongeveer 10:55 op ’n ongelukstoneel in Russelstraat afgekom waar twee voertuie in ’n botsing betrokke was. Ondersoek is ingestel en daar is vasgestel dat die bestuurder van een van die voertuie slegs ligte beserings opgedoen het. Die buurtwaglede het ’n ambulans en die plaaslike polisie gekontak en op die toneel agtergebly om verdere hulp te verleen totdat die nooddienste gearriveer het.

Jason Erasmus, ’n lid van die Worcester-buurtwag is op 13 Mei omstreeks 13:45 byna gekaap. ’n Onbekende man het voor Erasmus se bewegende bakkie ingeloop en ’n vuurwapen op hom gerig. Erasmus kon betyds uitswaai en ongedeerd wegkom. Die kaper het egter ’n ander voertuig probeer kaap. Erasmus het besluit om ’n ent verder af te trek en die man dop te hou. Die verdagte het gevlug en die vuurwapen aan ’n vriend, wat vinnig buite sig verdwyn het, oorhandig. Erasmus het die verdagte weer gewaar toe ’n ander persoon hom gekonfronteer het, Erasmus het dadelik gaan help en die verdagte is vasgetrek.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die blitspatrollie, ander AfriForum-buurtwaglede, die private veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT en LTS-sekuriteit het ook op die toneel opgedaag om hulp te verleen waarna die verdagte in hegtenis geneem is.

“Toe die vermeende kaper sy vuurwapen op my rig, kon ek gelukkig uitswaai, daarna het ek op ’n veilige afstand stilgehou en hom dopgehou. As ’n AfriForum-buurtwaglid het ek ’n verantwoordelikheid om op te tree, sou dit nodig wees,” sê Erasmus.

“Ons is baie dankbaar vir ons buurtwaglede wat hulself beskikbaar stel om hul gemeenskap op so ’n onbaatsugtige manier te help. AfriForum se Worcester-tak het groot planne vir die toekoms en is opgewonde om meer aktief in hul gemeenskap te raak,” sê Jacques Benade, distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om op die manier hul omgewing te beveilig.

Soortgelyke plasings