|

AfriForum sal hof vra om in te gryp ná NVG versuim om Jiba te vervolg

Meer as agt jaar se vertragings deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die saak teen die voormalige Adjunk Nasionale Direkteur van Vervolging adv. Nomgcobo Jiba moet tot ’n einde kom. Dit is die uitdruklike boodskap aan adv. Shamila Batohi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV), in nog ’n brief van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Batohi is nou gewaarsku dat die versuim om te verduidelik waarom Jiba nie vervolg word nie, die eenheid met geen ander keuse sal laat as om die hof te nader vir nodige verligting nie.

In April 2015 is Jiba aangekla en sy het in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn. In Augustus 2015 het die voormalige NDOV adv. Shaun Abrahams die aanklagte teen Jiba teruggetrek. Twee jaar later het die Hooggeregshof in Pretoria dié besluit hersien en tersyde gestel, die NVG was dus veronderstel om die saak weer ter rolle te plaas.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die klaer, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Johan Booysen en het op 16 November 2017 om ’n nolle prosequi-sertifikaat aansoek gedoen. Sedertdien was pogings om enige betekenisvolle opdatering oor die saak te kry futiel en die mees onlangse reaksie van die Ondersoekdirektoraat (OD) is eenvoudig onprofessioneel en onhoflik.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in sy brief aan Batohi sy teleurstelling oor die NVG se voortgesette ontwykende optrede uitgespreek en spesifiek verwys na ’n antwoord wat ontvang is van die ondersoekdirekteur, adv. Andrea Johnson, en die NVG se versuim om vroeëre klagtes te hanteer. “Die enigste afleiding is dat sy en die NVG-bestuur die onbehoorlike wyse en onprofessionele gedrag wat die OD openbaar, goedkeur. Maar ongelukkig strek die trant van die skrywe verder dat die OD klaarblyklik die samelewing en slagoffers van misdaad onbelangrik ag.

“Ons is raadop en glo dat alle moontlike ‘verskonings of redes’ om enige verdere vertraging te regverdig, uitgeput is. Daarom voer ons aan dat die versuim om te voldoen aan die hofbevel om die aangeleentheid weer ter rolle te plaas, die irrasionaliteit en minagting bevestig”

“Hierdie saak is al meer as agt jaar by die NVG. Wanneer sommige van die ‘verskonings of redes’ vir die vertraging om die saak tot ’n einde te bring in ag geneem word, word dit duidelik dat die NVG óf nie in staat is om te om vervolging in te stel óf doelbewus vervolging vermy omdat die beskuldigde steeds politieke beskerming geniet,” sê Nel.

Nel stel dit duidelik dat die enigste manier om enige verdere onredelike en onverklaarbare vertragings te verhoed en die ter rolle plasing van die saak te verseker, is om ’n hof te nader vir die nodige bevel. Batohi het 14 dae gekry om ’n sinvolle antwoord te gee.

Soortgelyke plasings