|

1 ton groente reeds vanjaar uit Bethal-tak se groentetuin geoes

Die groentetuin wat sedert 2020 deur AfriForum se Bethal-tak bedryf word, het verlede week nóg ’n indrukwekkende oes opgelewer. Die jongste oes bring die groentetuin se totale oes vir die jaar reeds op een ton te staan. Dié gemeenskapsgroentetuin het op 28 Augustus meer as 250 kg spinasie opgelewer, waarna die tak dit aan verskeie organisasies geskenk het, onder wie die Bethal Sopkombuis-voedingskema, Silwerjare Tehuis vir bejaardes en Solidariteit Helpende Hand se Morgenzon-tak.

Die Bethal-tak maak reg om in die volgende paar weke tamaties en aartappels aan te plant. Dit vul die bestaande aanplantings aan wat tans uit uie en spinasie bestaan. Die uie sal na verwagting in die volgende twee maande geoes word en aan die gemeenskap van Bethal geskenk word.

“Die groentetuin lewer gereeld groot oeste op, wat dan aan die kwesbaarste lede van die gemeenskap geskenk word. Die groentetuin moedig nie net die gemeenskap aan om selfstandig te word nie, maar help maand na maand soveel tehuise in die omgewing,” sê Marilé Nieuwoudt, koördineerder van AfriForum se Bethal-groentetuinprojek.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se tak in Bethal betrokke te raak.

Soortgelyke plasings