|

AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte neem aan polisie-operasie deel

AfriForum se buurtwagte in Kempton Park, Alberton, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston en Springs het die afgelope naweek in samewerking met die SAPD, GPF’s en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan die polisie se Operasie Masakhane in die Kempton Park-gebied deelgeneem.

Ongeveer 55 AfriForum-lede het aan die operasie deelgeneem wat onder meer twee padblokkades en ’n dwelmklopjag – onder leiding van die SAPD se misdaadvoorkomingseenheid – ingesluit het. Tydens die operasie is twee dwelmverwante arrestasies gemaak. Verskeie dwelms is gekonfiskeer, asook ’n onwettige vuurwapen en ’n banksakkie met goud in.

Tydens die padblokkades is 203 persone en 180 voertuie deursoek, terwyl nagenoeg 2 100 pamflette oor dwelmbewusmaking en 700 pamflette oor huishoudelike geweld saam met waterbottels en fluitjies uitgedeel is.

“Die patrollie was ’n reusesukses en AfriForum se Kempton Park-buurtwag moedig die gemeenskap aan om by hul plaaslike veiligheidsnetwerke betrokke te raak,” sê Dirk Venter, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-buurtwag.

 

“AfriForum se Kempton Park-tak wil die SAPD, asook die ander buurtwagte aan die Oos-Rand wat aan hierdie klopjagte deelneem het bedank vir die uitstekende samewerking en goeie koördinering tydens hierdie optredes,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Soortgelyke plasings