AfriForum skenk voer aan boere in Strydenburg

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 22 Augustus 2019 nagenoeg 60 ton voer aan boere in die Strydenburg-gebied geskenk ná ’n droogte in dié omgewing al vir byna tien jaar lank voortduur. Een 50 kg-sak voer kan ongeveer 15 ooie per dag voer.

Die voer is vanaf Weidemanvoere in Koffiefontein tot op ’n plaas in die Strydenburg-gebied vervoer en die boere kon dus daar voer gaan laai het.

Om toe te sien dat die skenking regverdig verdeel word, het AfriForum se Strydenburg-takbestuur gesorg dat elke boer ’n kaartjie met sy naam ontvang wat aandui waar sy vragmotor die voer moet laai, asook die aantal sakke wat aan hom toegedeel is.

“Boere moet sorg dat hulle self ook as gemeenskap kan oorleef tussen skenkings deur te sorg dat daar altyd finansiële voorsorg getref word om self voer aan te koop,” sê Sybil Visagie van Save the Sheep en Gift of the Givers.

Die droogte in die Noord-Kaap is steeds ’n groot bron van kommer. “Die droogte duur al so lank dat party van die boere se kinders nog nooit reën gesien het nie,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Boere ontvang geen staatshulp nie en is óf op hulself aangewese, óf afhanklik van skenkings om die droogte te oorleef.

“Droogtes soos dié een wat ons tans ervaar breek ’n mens, maar met skenkings soos hierdie kan ons saam hoop skep,” sê Smit.

Maak ’n bydrae tot AfriForum se noodfonds deur dié skakel te besoek https://givengain.com/cc/noodfonds/ of SMS “Droogte” na 38312 om R10 tot die fonds te skenk.

Soortgelyke plasings