|

Potgietersrus-buurtwag help SAPD om beslag te lê op onwettige vuurwapens

AfriForum se Potgietersrus-buurtwag in Mokopane het op 25 April in ’n gesamentlike operasie met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beslag gelê op ’n aantal onwettige vuurwapens. Ander betrokkenes het Spoorsny-sekuriteitsdienste, AfriForum se Naboomspruit-buurtwag, die Waterberg-blitspatrollie en Mokopane Speurders ingesluit.

Die Potgietersrus-buurtwag het omstreeks 13:30 inligting ontvang oor twee swaar gewapende verdagtes in ’n rooi Toyota Etios op die N1. Die voertuig het van Polokwane in die rigting van Mokopane beweeg. Die inligting is met die nodige veiligheidsgroepe gedeel wat hulle toe by die weegbrug op die R101 gaan stasioneer het.

Te danke aan padwerke op die roete het die verdagte voertuig tot stilstand gekom en is toe deur taktiese goed opgeleide buurtwaglede deursoek. Daar is beslag gelê op twee handwapens met lewendige ammunisie en ’n semi-outomatiese geweer met ammunisie.

Die SAPD het die verdagtes in hegtenis geneem. Ná verdere ondersoek het die SAPD nóg onwettige vuurwapens in die verdagtes se besit gevind.

“Hierdie operasie is net weer ’n bewys van hoe goed georganiseerde veiligheidstrukture van deurslaggewende belang is in die bekamping van misdaad. Die operasie se sukses beklemtoon die belangrikheid van verskillende rolspelers wat saamstaan om misdaad die hoof te bied,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Word deel van AfriForum se veiligheidstrukture in Mokopane: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings