|

Kraal Uitgewers woeker by Woordfees

Kraal Uitgewers het gewoeker tydens vanjaar se US Woordfees in Stellenbosch en gesprekvoering oor Afrikaans asook inligtingsessies oor twee van hul nuutste publikasies aangebied.

Dié klein, maar gespesialiseerde uitgewersmaatskappy fokus op die publisering van gehalteboeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis sowel as publikasies wat standpunt inneem oor politieke en maatskaplike kwessies in die land.

Op 6 Maart het prof. Wannie Carstens, ʼn Afrikaanse taalkundige en direkteur van tale aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom, Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmonument en -museum en prof. Jaap C. Steyn, skrywer van Ons gaan ’n taal maak, tydens ʼn gespreksessie oor “die storie van Afrikaans” gesels.

ʼn Gesprek oor Kraal se nuutste publikasie, Kultuurvryheid en Selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd, wat handel oor die versekering van kulturele vryheid vir minderheidsgroepe binne ʼn spesifieke politieke bestel, is op 7 Maart deur dr. Heinrich Matthee, redakteur van dié publikasie, asook prof. Louis du Plessis, ʼn politieke wetenskaplike en medeskrywer van dié titel, aangebied.

Dr. Dione Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van SA Akademie en prof. Fransjohan Pretorius, emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria gaan ook vandag ʼn gesprek oor Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Tranvaal, 1856-1923, wat ook die eerste boek in die uitgewer se nuwe Kraal Histories-reeks is, aanbied.

Volgens Alana Bailey, uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers, is die US Woordfees een van die beste platforms om aan beide bekende én nuwe Afrikaanse publikasies en produksies erkenning en blootstelling te bied.

“Die US Woordfees is ʼn nodige lewensaar vir oudbekendes en nuutskeppinge in Afrikaans,” meen sy.

Vir meer inligting of om ʼn bestelling te plaas, besoek www.kraaluitgewers.co.za.

Soortgelyke plasings