AfriForum versoek OB om SAID oor Guptas te ondersoek


AfriForum het vandag ’n dringende beroep gedoen op Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), om in te gryp by die Suid-Afrikanse Inkomstediens (SAID) se hantering van die Gupta-familie se belastingsake voordat die Guptas hul bates ten volle uit die land onttrek en dit nie meer moontlik sal wees om hulle vir moontlike belastingontduiking tot verantwoording te roep nie.
Dié dringende klag spruit uit die nuus dat ongeveer R33 miljard die afgelope week in die vorm van ’n digitale geldeenheid uit die land onttrek is en dit blyk dat die Guptas besig is om hul bates uit Suid-Afrika te onttrek. Hoewel daar sprake bestaan dat die inligting oor die R33 miljard-transaksie ’n haakplek op die digitale geldeenheid se stelsel is, is daar ook rede om te vermoed dat dié onttrekking aan die Guptas verbind kan word.
Terselfdertyd blyk dit dat die Guptas bedrieglik opgetree het met betrekking tot hul persoonlike inkomsteverklarings aan die SAID. Boonop skep inligting in die sogenaamde Gupta-e-posse die indruk dat hulle deur persone in die SAID beskerm word.
Uit onlangse mediaberigte blyk dit ook dat die Gupta-broers aan die SAID verklaar het dat hul jaarlikse inkomste slegs sowat R1 miljoen elk is – dít terwyl die eertydse minister van finansies Pravin Gordhan die totale bedrag wat aan staatskaping verbind kan word op rofweg R100 miljard beraam het.
Dit blyk nou uit die Gupta-e-posse dat die Gupta-familie vertroulik deur ’n bron na aan president Jacob Zuma gewaarsku is dat die SAID ’n reuse-ondersoek met betrekking tot die Guptas se geldsake onderneem het. Dit sou onder meer leefstyloudits insluit wat meer lig op die Guptas se oënskynlik bedrieglike verklarings oor hul persoonlike inkomstebelasting sou werp. Verskeie pogings om die Guptas te ondersoek, is al van binne die SAID van stapel gestuur, maar dit blyk dat dié pogings telkens ’n vinnige dood gesterf het, veral ná president Zuma se jarelange bondgenoot Tom Moyane as SAID-kommissaris aangestel is. Moyane het die Gupta-e-posse ná sy aanstelling as fopnuus afgemaak. Anonieme bronne in die SAID het ook laat blyk dat die SAID die Guptas in watte toedraai en dat dié familie van binne die SAID beskerm word.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat, indien dit waar is dat die Guptas die SAID oor hul persoonlike inkomste bedrieg het en dat die Guptas besig is om hul beleggings uit die land te onttrek, daar min tyd vir die SAID oor is om in te gryp en te keer dat die Guptas die land saam met hul buit verlaat.

“Dit blyk egter dat die SAID ’n traak-my-nieagtige houding jeens die Guptas het, wat moontlik op wanadministrasie neerkom. Daarom val dit ten volle binne die OB se mandaat om op dringende grondslag in te gryp. Dit is ’n gulde geleentheid vir die nuwe OB om haarself en die onpartydigheid van haar kantoor te bewys.”

Die onttrekking van Gupta-bates uit Suid-Afrika sluit in die verkoop van die Gupta-beheerde mediamaatskappy ANN7 en aanlyn koerant The New Age teen ’n bedrag van R450 miljoen aan ’n maatskappy wat deur Mzwanele Manyi bedryf word, asook die verkoop van die Tegeta-myn deur die Gupta-beheerde Oakbay Investements aan ’n Switserse maatskappy teen ’n bedrag van R2,97 miljard.

Soortgelyke plasings