Zimbabwiese boere eis miljarde in skadevergoeding van SA-regering


Altesaam 25 boere en boerderymaatskappye uit Zimbabwe het pas met die ondersteuning van AfriForum ’n dagvaarding teen die Suid-Afrikaanse regering en die president uitgereik vir skadevergoeding van nagenoeg R2 miljard. Dié boere het skade gely weens die Suid-Afrikaanse regering se medepligtigheid aan die ontbinding van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) enkele jare gelede.

Dit volg nadat die Konstitusionele Hof op 11 Desember 2018 eenparig beslis het dat oudpresident Jacob Zuma onregmatig en ongrondwetlik opgetree het deur aan die proses deel te neem om die SAOG-tribunaal te ontbind.
Die SAOG-tribunaal het in November 2008 bevind dat die Zimbabwiese regering onwettig en rassisties opgetree het deur wit boere se grond sonder vergoeding te konfiskeer. Daar is ook bevind dat die onteiende boere geregtig was op billike vergoeding vir die skade wat hulle weens die konfiskering van hul eiendom gely het.
In nóg ’n bevinding in 2009 het die tribunaal bevind dat die Zimbabwiese regering die eiendom van Luke Tembani, ’n swart kommersiële boer – wat op grond van drakoniese invorderingspraktyke van die Zimbabwiese Landbank verbeurd verklaar is – aan hom moet teruggee. Ook hiér het Zimbabwe die tribunaal se bevindinge geïgnoreer.  
Destyds het oudpresident Robert Mugabe die leiers van al die state in die SAOG-streek oortuig om die tribunaal af te skaf. Hy is aktief hierin ondersteun deur oudpresident Jacob Zuma en minister Jeff Radebe.
AfriForum staan die Zimbabwiese boere sedert 2009 by in hul stryd om die bevindinge van die SAOG-tribunaal af te dwing. Met die Konstitusionele Hof se bevinding dat die Suid-Afrikaanse regering onwettig en ongrondwetlik opgetree het, is die eisoorsaak vir ’n skadevergoedingseis teen die Suid-Afrikaanse regering voltooi. Luke Tembani en 19 ander boere, saam met die maatskappye waarin hulle hul boerderye bedryf het, eis nou die skade wat hulle van die Suid-Afrikaanse regering gely het.

“Ons is verheug om deel van ’n deurlopende stryd om geregtigheid in Zimbabwe te wees nadat almal soveel gely het. Ons dank God dat ons só ver gekom het en moedig ander aan om moed te skep en nie op te gee nie. Ons bedank ook vir AfriForum vir al hul hulp, asook ons ongelooflike regspan vir hul deursettingsvermoë en volharding om geregtigheid te soek toe alles so gereeld bykans verlore gelyk het,” sê Ben Freeth, woordvoerder van die Mike Campbell-stigting.

https://youtu.be/o9NzvRrzgKs

Soortgelyke plasings