AfriForum maak in kommentaar kapsie teen Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag breedvoerige kommentaar oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingedien en sterk kapsie daarteen gemaak.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, sê die wetsontwerp is in verskeie opsigte problematies en vaag en AfriForum het in dié kommentaar omvattende kritiek hierop gelewer: “Een van die heel grootste probleme hiermee is die koste daarvan. Nêrens in die wetsontwerp word daar melding gemaak van hoeveel dit gaan kos nie, maar die belastingbetaler word goedsmoeds gedwing om daarvoor te betaal.
“Om omvattende, gratis gesondheidsdienste aan 55 miljoen mense te wil bied terwyl maatskappye en net sowat 5 miljoen mense belasting betaal, is waansin. Dit gebeur per slot van rekening nie nou nie en die middelklas het nie geld daarvoor nie, terwyl daar ook geen aanduiding is wat presies met hierdie omvattende dienste bedoel word nie.”
Brink sê aangesien NGV verpligte en groeiende koste op die middelklas afdwing, gaan dit hul vermoë belemmer – en waarskynlik uiteindelik beëindig – om steeds aan mediese fondse te behoort en privaat gesondheidsdienste te bekostig. “Almal sal dan van die beroerde openbare gesondheidsektor afhanklik wees en dus die las van dié sektor vergroot. Dit sal uiteraard middelklasemigrasie versnel en die finansieringsmodel vir NGV ondermyn.”
Volgens Brink wil die staat ingevolge die Wetsontwerp sowel die reguleerder as kliënt van gesondheidsdienste in Suid-Afrika wees. “Hoewel die Wetsontwerp aanvoer dat die te stigte NGV-fonds dienste by sowel die openbare as die privaat sektor namens die publiek gaan aankoop, beteken dit in praktyk dat die fonds slegs dienste by die privaat sektor aankoop. Soos in die geval van grond, sal die staat nie meer markverwante pryse wil betaal nie en die privaat sektor boelie om dienste teen vasgestelde pryse aan die breë publiek te lewer. Hierdie toedrag van sake sal weer medici vinniger laat emigreer.”
Voorts is AfriForum se kommentaar ook daarop gerig om die staat se pligsversuim ten opsigte van korrupsie, meriete en goeie bestuur uit te lig. “Korrupsie, onreëlmatige besteding, regstellende aksie en kaderontplooiing definieer vandag se gesondheidsektor. Hoekom sal dit enigsins met NGV anders wees? Indien hierdie probleme nie reggestel word nie, gaan meer geld nie help nie.”

Die publiek het tot Donderdag 20 September 2018 om kommentaar op die NGV-wetsontwerp te lewer. AfriForum het die webtuiste www.jougesondheid.co.za geskep om dit maklik te maak om beswaar teen dié Wetsontwerp aan te teken. Jou geld, jou gesondheid – laat jou stem hoor!

Soortgelyke plasings