AfriForum hef sy stem teen rassisme


AfriForum het strafregtelike klagtes by die polisiestasie in Springbok ingedien ná individue rassistiese uitlatings teenoor wit mense gemaak en geweld teenoor dié rassegroep aangemoedig het. Onvanpaste voorstelle en beskuldigings met kru taal is ook op sosiale media versprei.

“Die gemeenskap van Springbok is dit eens dat daar nie ruimte vir hierdie soort uitlatings in hul samelewing bestaan nie. Dit sal die gemeenskap onnodig verdeel en rassehaat aanvuur,” sê Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak.
“Persone wat hierdie soort uitlatings maak – ongeag hul ras of die geteikende rassegroep – moet oor dieselfde kam geskeer word. Indien sulke individue nie onmiddellik tereggewys word nie, sal dit ons gemeenskap se gesindheid teenoor rasgroeperinge beslis negatief beïnvloed,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheid­afdeling.

AfriForum sal die verloop van die ondersoek na dié klagtes moniteer en druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) plaas om die waarskynlikheid vir suksesvolle vervolging van die beskuldigdes te verhoog.

Soortgelyke plasings