|

AfriForum se Moot-tak maak twee spruite skoon

AfriForum se Moot-tak het op 5 September twee spruite tussen Hertzog-, Haarhoff-, Meyer- en Louis Trichardtstraat skoongemaak om onder meer veiligheid in dié gebied te bevorder.

“Lang gras in openbare areas bied wegkruipplek vir kwaaddoeners en veroorsaak dat misdadigers nie vasgetrek kan word nie. Hoewel veiligheid vir ons baie belangrik is, is dit nie die enigste doelwit nie, aangesien die projek ook bydra tot die algehele netheid van die strate en openbare ruimtes om sodoende gesondheidsrisiko’s uit te skakel. Ons is moeg daarvoor dat daar niks vanaf die Tshwane Metro se kant gedoen word nie en daarom het ons besluit om self aksie te neem,” sê Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-tak.

Groot gedeeltes rondom die waterkanaal is skoongemaak en ontbos om veiligheid in die omgewing te verbeter. Daar is egter ’n groot deel langs die kanaal wat nog skoongemaak moet word en dit sal met ’n volgende geleentheid gedoen word.

“AfriForum se Moot-tak wil bydra tot ’n veiliger en skoner gemeenskap. Ons doen daarom ’n beroep op inwoners om by ons plaaslike tak betrokke te raak en ons te ondersteun om nog meer suksesse te behaal,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria.

“AfriForum se strukture sal aanhou om te verseker dat daar ’n gesonde omgewing vir almal geskep word en sal die nodige druk toepas om te verhoed dat dieselfde probleme herhaal word. Ons is dankbaar vir elkeen wat tyd opgeoffer het om deel te neem aan hierdie aksie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria.

Raak vandag nog by AfriForum se Moot-tak betrokke en word deel van die oplossing. SMS “Moot” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings