|

AfriForum se Reitz-tak neem deel aan #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Reitz het vandeesmaand aan dié burgerregteorganisasie se #OnsDorp-veldtog deelgeneem. Die tak het onder meer paaie geverf en bome by die plaaslike hoërskool geplant. Die projek behels die opknapping van dorpe waarin AfriForum gevestigde takke het.

“Die #OnsDorp-veldtog is geloods om ons dorpe en woongebiede op te knap. Munisipaliteite doen nie meer instandhoudingswerk nie en met dié projek stuur ons ’n boodskap dat ons dit self kan doen. Ons sal self ons dorpe mooimaak en onderhou as die munisipaliteite versuim om hul pligte na te kom,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

Die tak het vier stopstrate oorgeverf en ses vaderlandswilge by die Hoërskool Reitz geplant. Nóg vier bome is geskenk aan ’n kampterrein, waar ’n voedselprojek vir minderbevoorregtes deur verskeie organisasies bedryf word.

Volgens Danielle Maree, die taksekretaris, was die ongeverfde padtekens ’n veiligheidsrisiko vir die gemeenskap.

“Daarom het ons besluit om dié projek aan te pak. Ons beplan nog projekte in terme van padveiligheid om die omgewing veilig te maak.”

“Ons wil die gemeenskap graag uitnooi en aanmoedig om by AfriForum se Reitz-tak betrokke te raak om ons te help om ’n daadwerklike verskil te maak,” sluit Maree af.

Sluit by die Reitz-tak aan: SMS “Reitz” na 45350 (R1) of skakel Danielle by 082 867 3050.

Soortgelyke plasings