|

Korrupsiebeskuldigde Tshwane-metropolisiebeamptes dam lid van privaatvervolgingseenheid by

Tshwane-metropolisiebeamptes, wat op korrupsieverwante aanklagte teregstaan, het ’n lid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid bygedam omdat hulle beswaar gemaak het om op video afgeneem te word. Die voorval het Donderdag 15 Junie in die Pretoria-landdroshof gebeur nadat Johnson Lebombo, Aubrey Phalane en Makgoba Raboshacia ’n kort verskyning gemaak het.

Hulle staan tereg op aanklagte van afpersing, roof, ontvoering en intimidasie. Die verdagtes staan ook in vyf ander sake tereg, terwyl addisionele sake teen hulle ook nog ondersoek word. Ten spyte hiervan is hulle steeds aan diens as dienende Tshwane-metropolisiebeamptes.

Toe Lebombo en Phalane die hofsaal Donderdag verlaat, het die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, ’n video op sy selfoon geneem. Wat gevolg het, was ’n woordewisseling waar die polisiebeamptes probeer het om Bateman se selfoon by hom af te vat, hulle het hom hardhandig behandel en met arrestasie gedreig.

Die optrede van die beamptes is egter nie verbasend nie. “As dít die optrede van beskuldigde polisiemanne is, stel jou net die bravade van polisiebeamptes voor wanneer hulle in uniform is, gewapen en met blou ligte ry,” het Bateman gesê.

Dié voorval het plaasgevind net ’n dag nadat die Tshwane-metropolisie ’n direktief aan al sy lede uitgereik het in reaksie op talle klagtes van beweerde afpersing en korrupsie deur TMPD-lede. “Due to the high number of complaints received from the public, TMPD members are to take note that the public has the right and is encouraged to request appointment certificates from a member. The public may also either take photos of the member and his/her vehicle and/or record the occurrence in the endeavour to curb this alleged unlawful act,” lui die direktief.

In die onderhawige saak word beweer dat hulle in September verlede jaar ’n motoris afgetrek en hom daarvan beskuldig het dat hy gejaag het – sy meisie en hul 10-jarige dogter was saam met hom in die voertuig. Die beamptes het na bewering sy persoonlike vuurwapen by hom afgevat. Daarna het hulle gedreig om hom in hegtenis te neem en gevolglik gedwing om kontant by ’n OTM by ’n vulstasie in Rigellaan in Pretoria te onttrek. Nadat dit gedoen is, het die beamptes die man na bewering agter in die polisievangwa gedwing en na ’n verlate gebied geneem. Daar het hy die R4 000 wat hy pas onttrek het aan hulle oorhandig en hulle het hom van ’n verdere R1 000, wat in sy beursie was, beroof.

Die drie beskuldigdes verskyn op 18 Julie weer in die hof. Die media word aangemoedig om die verrigtinge by te woon om eerstehands die optrede van hierdie polisiebeamptes te aanskou, terwyl hulle teregstaan op hierdie baie ernstige aanklagte.

Soortgelyke plasings