|

AfriForum dien strafregtelike klagtes in teen munisipale bestuurder van Tokologo Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum het strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit gelê rakende rou riool wat vir meer as agt maande uit die rioolplaas vloei in ’n nabygeleë boer se plaas in. Die strafregtelike klagte volg nadat AfriForum die Tokologo Munisipaliteit op terme geplaas het oor die riool. Hierdie stappe het gevolg nadat AfriForum verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang het dat die rioolplaas op Hertzogville nie funksioneer soos dit moet nie en dit dan lei na die uitvloei van rou riool.


AfriForum het ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor rou riool wat vanaf die rioolplaas na omliggende plase vloei en tot gevolg het dat die grond besoedel word asook die ondergrondse waterbronne. Hierdie veroorsaak verder dat die boere wat hierdeur geraak word, nie gebruik kan maak van hul boorgate nie en die risiko is ook daar dat hulle vee verskeie siektes kan opdoen danksy die riool wat die water besoedel. Die rou riool verspoel selfs met tye die krale van die diere en maak dit ontoeganklik vir enige dier om daar te loop. Die eienaar moes al sy vee verkoop as gevolg hiervan.AfriForum het verdere stappe geneem en die munisipale bestuurder strafregtelik aangekla aangesien hy versuim om sy pligte na te kom.


“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie optree en hierdie probleem aanspreek nie. Die riool vloei al vir maande in hierdie plase in en hierdie kan ernstige nagevolge hê vir die boeregemeenskap wat hierdeur geraak word. Die omstandighede waarin die boere moet lewe is onmenslik. Dit hou ‘n baie groot gesondheidrisiko in vir beide die boer asook die diere. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie probleem aangespreek word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.


AfriForum het van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit geëis om ’n aksieplan voor te lê wat sê hoe die probleem aangespreek gaan word, asook die stappe wat geneem gaan word om te verseker dat dit nie in die toekoms herhaal gaan word nie en hoe die munisipaliteit beplan om die omgewing te rehabiliteer en skoon te maak.Jy kan help om druk op die munisipaliteit te plaas deur jou naam te voeg by die volgende petisie.


Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om probleme in jou omgewing aan te spreek: SMS “Jou dorp se naam” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings