|

Boomplantmaand: AfriForum se Pretoria-takke dra by tot ’n groener toekoms

AfriForum se takke in Groter Pretoria het in September meer as 150 inheemse bome in die Pretoria-omgewing geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, is die projek daarop gemik om bome te plant op plekke waar AfriForum strukture het en só tot ’n groener toekoms by te dra. Van die bome wat geplant is, sluit die maroelas, appelblare, vaderlandswilge en swartkarees in.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Grobbelaar.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer – en die AfriForum-takke in Pretoria onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Grobbelaar.

AfriForum-takke in Pretoria wat aan die boomplantaksie deelgeneem het, is Waverley, Moot, Wes-Moot, Pretoria-wes, Moreletapark, Roodeplaat, Rayton en Cullinan, Bronkhorstspruit, Centurion en Meyerspark.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms. Sluit by AfriForum aan: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings