Die Gelofte: ’n Musiekblyspel kry nog ’n speelvak ná kaartjies weer uitverkoop

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel gaan van 3 tot 25 September vir ’n derde speelvak by die AfriForum Teater opgevoer word. Dit volg nadat kaartjies vir die tweede speelvak, wat op 19 Junie geëindig het, uitverkoop het en daar steeds ’n groot aanvraag vir kaartjies bestaan.

Kaartjieverkope vir die nuwe speelvak het pas op die AfriForum Teater se webtuiste geopen.

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied word. Die rolverdeling spog met groot name in die musiek- en teaterbedryf waaronder Johan Vorster, Nadia Beukes en Bernice West.

Die teks is deur Jannes Erasmus geskryf en volg die geskiedkundige gebeure wat die aflê van die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het. Erasmus behartig ook die regie vir dié produksie. Musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Wet behartig en Francois Lessing is aan die stuur van orkestrasie en musiekregie. Volgens Erasmus is die musiek splinternuut, oorspronklik en werklik op ’n internasionale standaard.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was dié burgerregteorganisasie aanvanklik vol vertroue dat die boodskap van hoop wat Die Gelofte: ’n Musiekblyspel oordra, goed ontvang sou word. Die oorweldigende reaksie van die publiek en die kaartjieverkope het egter selfs hierdie positiewe verwagtinge oortref. “Dit maak dit moontlik dat ons nou die geleentheid aan nog meer mense kan bied om dié musiekblyspel by die AfriForum Teater te kan sien,” sê Kriel.

“Dit is vir my belangrik om die gehoor fisies en emosioneel deel te maak van die ervaring. Die rou emosie wanneer elke persoon teenwoordig staan tydens die aflê van die Gelofte is seker een van my gunstelingoomblikke. Ek dink skoolleerders wat ’n tweede of derde keer kom kyk en mense saambring, is ’n goeie maatstaf of die produksie in sy doel slaag. Selfs mense wat ervare teatergangers is, deel dat hulle al baie vertonings beleef het maar iets is anders aan Die Gelofte, iets wat jou boei en laat terug kom vir nog. Die mense wat hierby betrokke is, is vir my ’n hoogtepunt — ons is ’n groep vreemdelinge wat elkeen ons eie bagasie het wat die Here kies om saam op hierdie reis te gaan en nou is ons ’n hegte familie. Die Here het al mense veel minder bekwaam as ons gebruik om Sy woord te verkondig en wat ’n voorreg om dit op hierdie manier te kan doen. Hierdie is ons vyf broodjies en twee vissies, nou bedien ons die nasie,” voeg Erasmus by.

“Vir ’n wonderwerk om te gebeur moet daar ’n bonatuurlike ingryping plaasvind van ons God, maar dit vereis dat ’n mens jou knie buig voor Sy grootheid. Dit het in 1838 gebeur en wonderwerke gebeur steeds vandag! Ons staan verstom oor die terugvoer wat ons ontvang. Die Gelofte is nie net ’n opvoering wat ’n belewenis is nie. Dit verander werklik mense se lewens. Ons word oorval met mense wat sê dat hulle met hoop gevul is soos hulle by die teater uitstap en dat hulle weer kans sien vir die toekoms,” sê Vorster en De Wet.

“Dit is verblydend om te sien hoeveel mense nog na Die Gelofte wil kom kyk. Navrae stroom in. Die blyspel kry nou werklik eers momentum en dit is wonderlik om te sien hoeveel mense vir ’n tweede en derde keer terugkom met nog vriende en familie om die blyspel weer te kom kyk. Dit is heerlik om ’n derde speelvlak te kan aankondig,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van die AfriForum Teater.

Kaartjies vir die derde speelvak van Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is nou beskikbaar.

Soortgelyke plasings