|

AfriForum Jeug: Geen rede waarom kontakklasse nie hervat kan word nie

AfriForum Jeug dring daarop aan dat alle kontakklasse by openbare universiteite hervat word. Dié organisasie is sedert April vanjaar in kontak met al 25 openbare universiteite om vas te stel wat hulle aangepaste beleid oor kampus-gebaseerde onderrig is aangesien talle universiteite dit tydens die Covid-19-pandemie met aanlyn onderrig vervang het. AfriForum Jeug is verheug deur die terugvoer wat daarop dui dat die meeste universiteite kontakklasse teen die einde van die jaar ten volle wil hervat om gehalteonderrig aan studente te bied.

Noudat alle Covid-19-regulasies opgeskort is, verwag AfriForum Jeug dat daar binnekort gehoor gegee gaan word aan hul eis van 20 April 2022 dat kontakklasse onmiddellik hervat word.

“In gevalle waar dosente nou kampus-gebaseerde onderrig vermy, is dit teenstrydig met die nuwe gesondheidsregulasies en universiteite se beleide. AfriForum Jeug sal nie huiwer om regstappe te oorweeg in gevalle waar studente van gehalteonderrig ontneem word nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Indien studente steeds verplig word om aanlyn klasse te ontvang, alhoewel hulle vir kontakklasse betaal, kan hulle AfriForum Jeug se petisie teken deur op dié skakel te klik.

Soortgelyke plasings