|

AfriForum se teenboelieveldtogspan in samewerking met Solidariteit Helpende Hand  besoek Laerskool Elarduspark

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 23 Junie by die Laerskool Elarduspark in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliegedrag kom al meer voor by skole en in die breër samelewing. Dit is belangrik dat daar by alle skole ’n bewusmakingsveldtog aangebied moet word. Hierdie bewusmaking is belangrik om onderwysers en leerders attent te maak op die onaanvaarbaarheid van boeliegedrag en sodat hulle beter toegerus is om boeliegedrag te hanteer. Kinders moet van jongs af geleer word dat dit nie reg is om iemand fisies of emosioneel te boelie nie. Die teenboelieveldtogspan se gebruik van die wapenrusting as voorbeeld is vir my so ’n mooi manier om kinders te laat fokus op om lief te wees vir hulself en ook mekaar te respekteer en God eerste te stel in hulle lewe. Só leer dit die kinders dat God hulle liefhet en dat hulle volgens Sy hand gemaak is: uniek en waardevol,” sê Isabel Böning, streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand in die Pretoria-Oos streek.

“Die teenboelieveldtog is van kardinale belang vir ons skole, aangesien dit die leerders toerus om te verstaan wat boelie is en om die vrymoedigheid te hê om met iemand daaroor te praat.  Die emosionele waarde vir die kind wat stilbly en geboelie word is so belangrik, want hulle identifiseer met die situasie en word toegerus om dit te hanteer vanuit ’n geestelike oogpunt. Baie dankie, AfriForum, vir dit wat julle vir ons jong kinders beteken,” sê Carina Linstrom, onderwyseres by die Laerskool Elarduspark.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings