| | |

AfriForum se Brits-tak verskaf skolehulppakkette

Die AfriForum-tak in Brits het skolehulppakkette aan vier skole in die Brits-omgewing voorsien as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Laerskool De Kroon, Hoërskool Brits, Laerskool Sonop, asook Laerskool Pansdrif het dié pakkette ontvang om hulle te help om gereed te wees om te heropen.

Die skolehulppakket bestaan uit COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van een pakket beloop R6 500.

“AfriForum het heelwat versoeke van skole ontvang omdat hulle geen/onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se Brits-tak aan die Skole-projek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders terug kan keer skool toe en die 2020 akademiese jaar kan hervat,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens die takbestuur is dit kommerwekkend om te sien dat baie van die skole in die Brits-omgewing nie hulp van die staat ontvang nie. Die tak moes inspring om seker te maak dat die skole gereed is om op 1 Junie te heropen.

AfriForum se Brits-tak wil graag nóg skole in die uitdagende tye wat voorlê ondersteun om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die tak moedig daarom die gemeenskap aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS “Brits” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings