|

Vrystaatse munisipaliteite dop oudit vêr

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met ’n oudit van Vrystaatse munisipaliteite bevind dat  die provinsie vrot vaar wat dienslewering betref. Die gebrek aan onlangse data vanaf die staat om belangrike aanwysers te meet, bemoeilik die situasie verder.

Soos in ander provinsies is aspekte soos die demografie, sosio-ekonomiese toestande, dienslewering en die bestuur van munisipaliteite gemeet. In die Vrystaat wissel die indrukspunt uit 10 van vier in Dihlabeng (Bethlehem) tot 0,5 in Tokologo (Boshoff).

Dr. Eugene Brink, bestuurder van AfriForum se Sentrum vir Plaaslikeregeringsake, sê die beskikbare data toon ’n onrusbarende prentjie van hierdie eens trotse provinsie. “Die ouditeur-generaal (OG) se uitslae wys onteenseglik hoe swak die Vrystaat se munisipaliteite bestuur word. Sy betreur veral die gebrekkige leierskap wat tot die misbruik van fondse en vermorsing lei. Op die plekke waar AfriForum alleen toetse doen, is die drinkwater plek-plek van goeie gehalte. Die gehalte van vullisterreine en afvalwater is egter beroerd en toon selfs verdere agteruitgang.

“Soos ook bevind is in ons oudits van ander disfunksionele landelike provinsies soos Noordwes, is onderwys besig om te verbeter maar die werkloosheidskoers – veral onder die jeug­ – bly hardnekkig hoog. Dit help nie dat meer mense matriek slaag as hulle nie kan werk kry nie. Onderwys is boonop nie ’n munisipale bevoegdheid nie maar ’n provinsiale een.”

Volgens Brink is daar groot verskille tussen die verskillende munisipaliteite se gehalte van dienslewering. “In die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit (Ficksburg en Senekal) het byvoorbeeld slegs sowat 15% van huishoudings toegang tot kraanwater in hul wonings teenoor sowat 65% in Metsimaholo (Sasolburg). Die syfer vir weeklikse vullisverwydering in Metsimaholo is 78,3% teenoor slegs 37% in Tokologo.”

Wat Brink veral bekommer, is die probleme in Mangaung (Bloemfontein). “Die data in hierdie verslag bevestig net weer dat dit die swakste metro in die land is. Groot bedrae word onreëlmatig bestee en vermors terwyl die stad se dienslewering allerweë berug en gebrekkig is.”

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake, tree nie een van die vlakke van regering op soos wat die grondwet vereis nie. “Dit is baie duidelik dat die staat nie die vermoë het om basiese dienste aan gemeenskappe te lewer nie. Die provinsie wys dat politieke bande en invloed eerder beskerm word as om uitvoering te gee aan grondwetlike bepalings. Terwyl die ANC dié beskerming geniet, sit gemeenskappe steeds sonder effektiewe, volhoubare dienslewering.”

Klik hier om die volledige verslag te lees.

Soortgelyke plasings