|

AfriForum se Potchefstroom-buurtwag koop eie hommeltuig aan

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom het op 24 November met groot opgewondenheid hul eie hommeltuig ontvang. Hoewel die buurtwag tot dusvêr gebruik gemaak het van lede se hommeltuie het dit noodsaaklik geraak vir die buurtwag om hul eie hommeltuig aan te skaf.

Hommeltuigtegnologie is van onskatbare waarde in die bekamping van misdaad, daarom het die buurtwag reeds vir Derek Crots gestuur vir intensiewe hommeltuigopleiding. Hierdie opleiding word deur AfriForum se lugvleuel aangebied en Crots het die opleiding met onderskeiding geslaag. Die buurtwag beoog om in 2022 nog lede te stuur vir hommeltuigopleiding.

“Ons wil graag elke AfriForum-lid in Potchefstroom bedank wat met ’n glimlag ’n ekstra bedrag per maand bygedra het om die aankoop van hierdie hommeltuig moontlik te maak. Dit is ook dié lede wat met hul bydraes dit moontlik gemaak het dat die buurtwag ander toerusting soos nagsigtoerusting en koeëlvastebaadjies kon aanskaf. Hierdie hommeltuigtegnologie gaan ’n groot verskil maak in die opspoor van verdagtes en gesteelde goedere veral in die landelike gebied om Potchefstroom,” sê Jan de la Hunt, buurtwagleier van die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom.

“Ek is baie trots op Potchefstroom se buurtwag, wat met sy bykans 200 aktiewe patrollielede, nie net een van die grootste AfriForum-buurtwagte in die land is nie, maar beslis ook een van die beste. Baie dankie vir al die ure wat julle opoffer om ons gemeenskap veiliger te hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou omgewing te beveilig. Kontak vir Jan de la Hunt by 079 099 6648 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings