|

Voormalige getuienisleier van die Zondo-kommissie getuig oor seksuele aanranding deur voormalige waarnemende regter 

Die verhoor van ’n voormalige waarnemende regter, wat daarvan aangekla word dat hy ’n advokaat in 2019 by ’n sosiale geleentheid seksueel aangerand het, het vandag in die Johannesburg-landdroshof begin. Advokaat Mpho Rasivhetshele het getuig oor die middag in Desember 2019 toe sy seksueel aangerand is, na bewering deur prokureur Vuyo Mtati. Die voormalige waarnemende regter het vroeër onskuldig gepleit op die aanklag maar het geen pleitverduideliking gebied nie. 

Rasivhetshele het beskryf hoe sy, kort nadat sy by ’n kollega se verjaardagpartytjie aangekom het, genader is deur Mtati, iemand wat nie bekend was aan haar nie. Sy sê hy het dadelik ’n onvanpaste gesprek met haar begin en gesê hy sal haar huis toe neem en hy het haar as sy maat beskou. 

Die klaagster het aan die hof gesê dat Mtati, wat na alkohol gestink het, nie wou ophou om haar te teister nie, ondanks haar pogings om hom by die partytjie te vermy. “Hy het opmerkings oor my lyf gemaak en daaroor om my saam met hom huis toe te neem. Hy het gesê ‘daar is niks wat jy kan doen nie, ek is ’n regter’. Hy het gesê ‘jy is my vrou’.” 

Dit het die punt bereik waar Rasivhetshele twee keer die gasheer van die partytjie en ’n ander vriend genader het om in te gryp en hulle vertel het dat die beskuldigde haar teister. Albei kere is daar met Mtati gepraat. “Ek was nie gemaklik rondom hierdie persoon nie. Ek wou nie naby daardie persoon wees nie. Ek was baie ongemaklik. Ek het die beskuldigde soos die pes vermy. Maar tot my verbasing was hy aanhoudend asof daar nie met hom gepraat is die eerste keer en die tweede keer nie. Hy het volgehou, asof hy onaantasbaar is en hy kon doen wat hy wou.” 

Ná aanhoudende teistering het Rasivhetshele besluit om die partytjie te verlaat, maar sy moes verby Mtati loop om by die uitgang uit te kom. “Soos ek verby geloop het, het ek sy hand op my geslagsdeleel gevoel. Hy het gedruk. Ek het sy vingers op my geslagsdeel gevoel. Dit was seer omdat hy aggressief gedruk het. Ek is nog nooit so geskend nie. Ek onthou dat ek teruggekyk het, en hy het hierdie glimlag op sy gesig gehad, asof hy bly was hy het gedoen wat hy gedoen het.” 

Tydens kruisondervraging het die verdediging Rasivhetshele daarvan beskuldig dat sy die aand van die partytjie ’n “groot onnodige bohaal gemaak het” en dat sy die beskuldiging van seksuele aanranding kwaadwillig gebruik het om “om onbekende redes met hom af te reken”. Die verdediging het die klaagster verder gekritiseer omdat sy nie dadelik die saak by die polisie aangemeld het nie. 

Die saak gaan môre Vrydag, 26 Augustus, voort.

Soortgelyke plasings