| |

AfriForum se Ellisras-tak ontvang brandbestrydingstoerusting

Die AfriForum-tak en -buurtwag in Ellisras het op 3 Desember nuwe brandbestrydingstoerusting ontvang. Hierdie brandbestrydingstoestel is aangekoop met die doel om die buurtwag in staat te stel om brande in dié omgewing te bestry en is befonds deur tak-lede se vrywillige maandelikse bydraes.

Die tak en buurtwag het besef dat dit nodig is om die regte prosedures in plek te hê om brande te beheer tot die brandweer opdaag. “Op hierdie manier verleen ons die nodige hulp aan die brandweer en maak hulle taak bietjie makliker in die proses,” sê Aldo Venter, AfriForum se takvoorsitter in Ellisras.

Die buurtwag gaan ook verdere opleiding ontvang om die brandbestrydingstoerusting effektief te gebruik en sodoende die gemeenskap beter te dien.

“Hierdie is ’n stap in die regte rigting. Deur aktief betrokke te raak in ons gemeenskap en deel te wees van die oplossing is vir ons as AfriForum-tak baie belangrik en ’n groot voorreg,” gaan Venter voort.

“Dit is te maklik om deesdae verskonings te soek of te kla oor dinge wat nie is soos wat ons wil hê dit moet wees nie daarom het ons besluit om in te spring en ’n verskil te maak,” sê Delyse Venter, AfriForum se sekretaresse vir die Ellisras-tak.

Raak betrokke by die AfriForum-tak in Ellisras: SMS “Jou naam” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings