|

Mooirivier-buurtwagte neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 14 en 15 Oktober 2022 in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 03:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 221 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 4 923 km in 160 voertuie afgelê. Daar het ook 80 persone van ander instansies, soos die SAPD, die GPF en sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Die buurtwagte wat deelgeneem het, sluit in Bothaville, Parys, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein buurtwag, Hartbeesfontein plaaswag, Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Ventersdorp en Wolmaransstad.

Daar was min voorvalle in die streek wat wissel van verdagte voertuie, hantering van persone onder die invloed van drank, kabeldiefstal en kleiner brande. Waar arrestasies gemaak is, is die verdagtes aan die polisie oorhandig. Die twee buurtwagte in Hartbeesfontein het saam met die SAPD ’n padblokkade gehou.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings