|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Hoërskool Durbanville

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en adv. Phyllis Vorster het op 26 Oktober die Hoërskool Durbanville besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole, en was ook deel van vanjaar se Anti-boelieveldtog wat die Hoërskool Durbanville vir die gemeenskap, wat die leerders, onderwysers en ouers insluit, aangebied het.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Die leerders het tydens hul Lewensoriënteringperiodes (LO) #DieValFilm op AfriForumTV gekyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig leerders met die nodige kennis en vaardighede om as ’n leier in situasies waar afknouery plaasvind op te tree – om boeliebestand te wees. Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is. Dit is voorwaar ’n wonderlike inisiatief van Hoërskool Durbanville om ook op so ’n manier ’n verskil in hulle gemeenskap te maak,” sê Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum.

Adv. Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het onderwysers van Hoërskool Durbanville en omliggende skole oor verskeie aspekte van die strafregstelsel toegespreek. Sy het onder meer gepraat oor watter tipe optrede strafregtelik vervolgbaar is en hoe onderwysers te werk moet gaan om dit aan te meld sowel as die proses wat daarop volg. Sy het ook praktiese voorbeelde gebruik en na gepaste optrede in sekere situasies verwys asook wat onderwysers se regte is.  “Die volstruis-benadering help nie. Onderwysers moet, deur middel van die nodige ondersteuning van die beheerliggaam en bestuur van die skool, ondersteun word om die regte prosesregtelike stappe te volg en daarmee te volhard,” het sy gesê.

Sy het egter ook benadruk dat baie van die verwarring en wanopvattings wat mense jeens die strafregstelsel het, voortspruit uit ’n gebrek aan kommunikasie van die polisie, asook aanklaers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). “Die NVG staan bekend as ‘the lawyers for the people’, maar die privaatvervolgingseenheid beleef egter gereeld eerstehands hoe lede van die publiek deur aanklaers in die steek gelaat word. Dit is daarom belangrik dat ons ook ’n opvoedingsrol speel om mense van hul regte in te lig, asook hoe die strafregproses werk. Ons moet ook in sommige gevalle toetree as die strafregstelsel slagoffers faal.”

“Ons Anti-boelieveldtog met die tema: Jy het waarde, gaan daaroor om leerders bewus te maak, op te voed, te bemagtig en ingesteldhede te verander. Dit is daarop gemik om leerders te help ontdek wie hulle is, vaardighede aan te leer om te kan opstaan nie net vir hulself nie, maar ook vir die leerders om hulle. Hierdie veldtog skep ook die geleentheid vir leerders om oor goed wat hulle pla te kan gesels. Dit is ons hartsbegeerte dat leerders weer leer hoe om vir mekaar om te gee en lewe oor mekaar uit te spreek. Ons sal graag ’n kultuur van omgee in ons skool wil vestig sodat dit na die gemeenskap kan vloei,” sê Rochelle Jordaan, onderwyseres vir konsessies en leerderondersteuning.

#DieValFilm kan gratis op AfriForumTV by www.afriforumtv.co.za gestroom word. Dié toepassing kan ook op Google Play Store, of die App Store afgelaai word. Vir meer inligting oor die film, besoek gerus www.dievalfilm.co.za.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings