AfriForum rapporteer Julius Malema aan die Menseregtekommissie; doen ’n beroep op lede om druk toe te pas

Die burgerregteorganisasie AfriForum het klagtes teen die EFF-leier, Julius Malema, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien vir aanhitsing van geweld en haatspraak. Dit volg nadat Malema tydens ’n EFF-saamtrek in die Wes-Kaap gesê het dat “you [EFF supporters] must never be scared to kill” en dat “a revolution demands that at some point there must be killing, because the killing is part of a revolutionary act”. AfriForum eis dat die SAMRK Malema se opmerkings ondersoek en dat hulle ’n kompromislose standpunt inneem en optree teen hierdie gewelddadige retoriek.

AfriForum doen ’n beroep op sy lede om te help om druk op die SAMRK toe te pas om Malema dringend vir hierdie uitlatings te ondersoek deur die webblad www.stopmalema.co.za te besoek – ’n maklike manier om ’n standaardklag in te dien.

“Die politieke omgewing in Suid-Afrika hou aan radikaliseer. Elke keer as ’n politikus wegkom met ekstremistiese of gewelddadige retoriek, lei dit tot die eskalasie van sulke retoriek. Dit is jammer dat politieke elite tans dikwels ’n vrypas gegee word deur diegene wat die gesag het om in te gryp. Dit is hoekom dit so belangrik is vir AfriForum om in te tree en te verseker dat daar gevolge is vir die aanhitsing van geweld deur politici,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“In die lig van ’n politieke omgewing wat toenemend gekenmerk word deur politici wat straffeloos met geweld teen minderheidsgroepe dreig, sal AfriForum voortgaan om die opleiding en gereedheid van ons gemeenskapsveiligheidstrukture te verskerp. Ons moedig die publiek sterk aan om by sulke inisiatiewe betrokke te raak,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings