|

Hoop wink vir Griekwastad ná AfriForum by krag- en waterkrisis ingryp

Maande nadat probleme rakende water- en elektrisiteitsvoorsiening op Griekwastad begin het wink daar hoop dat die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit eindelik aandag aan die situasie gaan gee. Dit kom nadat AfriForum noodgedwonge ingegryp het om die situasie te help beredder.

Oor die afgelope drie maande is daar benewens beurtkrag ook gereelde krag- en wateronderbrekings op Griekwastad. Inwoners sit dikwels van vroegoggend tot laataand sonder krag, terwyl hul krane byna heeltemal leegloop.

AfriForum het verlede week ’n gemeenskapsvergadering in Griekwastad saamgeroep om aandag te gee aan die dringende krag- en waterprobleme. Dit het duidelik geword dat inwoners gefrustreerd is oor die situasie, en boonop geen antwoorde of oplossings vanaf die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit, waaronder Griekwastad ressorteer, ontvang nie. Die inwoners se ellendige situasie het AfriForum genoop om tot aksie oor te gaan.

AfriForum se Douglas-tak, wat die inwoners van Griekwastad ondersteun, het vandeesweek die kantore van die munisipaliteit besoek en sy misnoeë oor die situasie te kenne gegee. Daar is ooreengekom dat AfriForum op 28 Februarie met ’n lid van die senior bestuur, Xolile Geco, oor die verskeie diensleweringsprobleme op Griekwastad sal vergader.

Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, het ook op AfriForum se noodroep gereageer en onderneem om op 27 Februarie met lede van die Douglas-tak te vergader om die pad vorentoe te bespreek.

Die burgerregteorganisasie het intussen dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, versoek om humanitêre hulp aan die gemeenskap te gee. AfriForum het ook ’n brief aan Eskom gerig om antwoorde oor die voortdurende kragonderbrekings te eis.

“Elektrisiteitsvoorsiening en toegang tot skoon water is nie ’n kwessie van gerief nie; dit is ’n basiese mensereg en noodsaaklik vir die gesondheid en welstand van alle burgers. Dit is dus die plaaslike en provinsiale regering se verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie dienste aan gemeenskappe verskaf word. Die feit dat die inwoners van Griekwastad vir die afgelope drie maande gereeld sonder hierdie dienste gelaat word, is onaanvaarbaar,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

AfriForum het intussen ’n petisie saamgestel om Eskom te dwing om oombliklik op die humanitêre krisis te reageer voordat dit in ’n humanitêre ramp ontaard. Teken die petisie om te help om die krag- en waterprobleme op Griekwastad die hoof te bied.

Soortgelyke plasings