|

Vryburg-tak slaan kolhou met suksesvolle sportfees

AfriForum se Vryburg-tak het op 6 en 7 Oktober ’n suksesvolle sportfees in samewerking met die Tafelronde Vryburg en Green & Gold aangebied. Meer as 100 deelnemers het tydens die naweek se fees aan verskeie sportsoorte deelgeneem.

Die fees is Vrydag (6 Oktober) afgeskop met ’n rolbalaand waartydens altesaam 14 spanne mekaar die stryd aangesê het. Na afloop van die wedstryde het sportlui die aand met ’n ete en ’n gesellige kuier by die rolbalklub afgesluit. Elke deelnemer het ’n prys vir deelname ontvang.

Gholfspelers het Saterdag (7 Oktober) hul stokke afgestof vir ’n kragmeting op die gholfbaan waaraan 44 spelers deelgeneem het. Dié dag is ook met ’n ete en prysuitdeling afgesluit.

“AfriForum se Vryburg-tak wil graag elke onderneming en individu wat aan die sportnaweek deelgeneem het, bedank. Ons bedank ook al die borge wat die naweek moontlik gemaak het. Ons sal aanhou om projekte ten bate van die gemeenskap van stapel te stuur en die gemeenskap mobiliseer deur aksies soos dié aan te pak,” sê Jp Nel, AfriForum-distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Vryburg-tak beplan om volgende jaar weer dié sportfees aan te bied.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak en help om jóú omgewing te beveilig en skoner te maak. Besoek gerus AfriForum se webtuiste vir meer inligting of volg AfriForum Vryburg op Facebook.

Soortgelyke plasings