|

AfriForum help Skaak SA met hofsaak teen onregmatige skorsing

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n hofaansoek gebring om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) se besluit om Skaak SA te skors, ter syde te stel. SASKOK het Skaak SA op 22 April 2023 geskors sonder enige konkrete redes welke besluit teenstrydig is met SASKOK se prosedures, soos vervat in hul grondwet. AfriForum veroordeel hierdie besluit van SASKOK ten sterkste, aangesien die redes vir die skorsing ongegrond en onregmatig is.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, sê dat SASKOK se besluit net nóg ’n voorbeeld is van hoe die amptelike sportliggame in Suid-Afrika onder politieke druk swig en geen ruggraat wys om sportkodes – in hierdie geval skaak – te bevorder en te beskerm nie. “Dit is duidelik dat die regmatige raad deur polities gedrewe agendas uitgewerk is, terwyl hierdie sportsoort en sy deelnemers nou onder hierdie magstryd ly,” sê Peters.

Hendrik du Toit, president van Skaak SA, het verduidelik dat Skaak SA sedert 2017 met ’n groep sukkel wat die federasie probeer kaap. “Met min hulpbronne en die hulp van ons regspan het ons in 2018 ’n poging om beheer van Skaak SA oor te neem, afgeweer. In 2022 is Skaak SA deur ’n beslissing van ’n volbank regters van die Hoogste Hof van Appèl gelyk gegee en die saak in Skaak SA se guns bereg,” sê Du Toit. “Skaak SA het besef dat hulle kundige hulp benodig. AfriForum se prestasierekord om organisasies te help wat deur staatsorgane geteiken word, spreek vanself en het ’n natuurlike keuse geword,” sluit Du Toit af.

’n Hofdatum vir hierdie saak sal binnekort bevestig word.

Klik hier vir AfriForum se onderhoud met Skaak SA.

Soortgelyke plasings