|

AfriForum eis onafhanklike ondersoek ná bewerings van wanbestuur, seksuele misdrywe en viktimisasie by Netbal SA

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) geëis dat ’n onafhanklike ondersoek teen Netbal SA van stapel gestuur moet word. Dit volg ná AfriForum in ’n dokumentêr getiteld Die ware stand van sake in Netbal SA die kollig geplaas het op bewerings van viktimisasie, seksuele misdrywe en wanbestuur in Netbal SA. Sedert die bekendstelling van hierdie dokumentêr het nóg fluitjieblasers die organisasie genader met verdere inligting wat die bewerings in dié dokumentêr ondersteun.

Netbal is een van die sportsoorte in Suid-Afrika wat ongelooflike potensiaal het, maar as gevolg van wanbestuur en politieke agendas word hierdie potensiaal nie ten volle ontgin nie. Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, sê dat dit duidelik is dat die inligting wat in hierdie dokumentêr bekendgemaak is groot ongelukkigheid by die publiek veroorsaak het. Mense versoek nou dat stappe gedoen sal word om hierdie bewerings te ondersoek om die skuldige partye aanspreeklik te hou.

“Die Netbalwêreldbeker is om die draai en die amptelike hutsmerk van dié wêreldbeker is #TakingNetballBackToThePeople. Juis daarom is dit vir ons baie positief om te sien dat mense en die private sektor opstaan teen die beweerde ongeregtighede in Netbal SA en in Suid-Afrikaanse sport as geheel. Dit is al hoe ons ’n beter toekoms vir sportlui in Suid-Afrika kan verseker,” sê Peters.

AfriForum veroordeel die wanbestuur van sportfederasies en -beheerliggame in Suid-Afrika ten sterkste aangesien dit ’n wesenlike impak het op die rol wat sport werklik in die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe behoort te speel.

Soortgelyke plasings