|

AfriForum-buurtwag in Stilfontein help om gemeenskap veilig te hou

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het ’n besige April gehad waarin hulle hard gewerk het om die gemeenskap veilig te hou.

Die buurtwag het op 8 April deelgeneem aan AfriForum se nasionale patrollie, 28 voertuie van hierdie buurtwag het in total 1 330 km op hierdie aand afgelê. Die buurtwag het in total in April 152 patrollies gery en sowat 5 320 km afgelê.

Die buurtwag het vyf arrestasies gemaak en die verdagtes aan die SAPD oorhandig vir onder meer oortredings soos betreding, besit van gesteelde goedere en die besit van dagga. Daar is heelwat leë huise in Stilfontein wat gebruik kan word vir onwettige bedrywighede en die buurtwag doen moeite om gereeld by hierdie huise aan te gaan om te kyk dat alles reg is.

Die buurtwag versamel baie nuttige inligting rakende misdade en kan dan voorkomend optree en die inligting ook deel met die SAPD. Talle verdagte voertuie is dopgehou deur die inligting op die buurtwaggroepe te plaas en die besonderhede aan die SAPD te gee sodra dit blyk dat die voertuig met onwettige bedrywighede besig is. Die buurtwag hanteer talle insidente om die gemeenskap veilig te hou, totdat die SAPD op die toneel kom, waarna die toneel aan hulle oorhandig word. Insidente sluit in diefstal, ongelukke waar verkeer beheer word, verdagtes in erwe en gewapende roof. Die buurtwag het ook bystand verleen by ‘n selfdoodtoneel en ook berading vir die naasbestaandes gereël.

Die buurtwag was ook betrokke by gemeenskapsprojekte waar slaggate gevul word, omdat dit ’n veiligheidsrisiko inhou, asook by skoonmaakprojekte in die dorp saam met ander instansies. Die buurtwag het aan bejaardes van die Sout-en-peper-klub wenke gegee oor veiligheid. Daar is ook ’n brief aan die munisipaliteit gerig aangaande die water wat die N12 buite die dorp oorspoel en talle ongelukke veroorsaak het. Die probleem is daarna aangespreek.

“Dit is waarlik goed om te sien hoe die buurtwag betrokke raak by die aktiwiteite. Die reaksie op noodgevalle en situasies waar hulp benodig word, is iets om waarlik op trots te wees. Hier is manne en vroue betrokke by die buurtwag wat onbaatsugtig hulle tyd en energie skenk aan die liefdestaak om ons gemeenskap veilig te hou. Die toewyding is prysenswaardig en gaan nie ongesiens verby nie,” sê Marius Trollip, leier van die AfriForum-buurtwag in Stilfontein.

“Hierdie buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in Stilfontein se gemeenskap, waarvoor die gemeenskap baie dankbaar is. Ek moedig inwoners wat nog nie aktiewe lede van die buurtwag is nie, om onverwyld aan te sluit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak, kontak vir Marius Trollip by 082 494 4123

Soortgelyke plasings