Malema se uitlatings ís haatspraak: AfriForum behaal dubbele oorwinning in saak teen Menseregtekommissie

Die burgerregteorganisasie AfriForum was suksesvol met sy hofaansoek in die Johannesburgse Hooggeregshof teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) om hul besluit op hersiening te neem dat Julius Malema, leier van die EFF, se uitlatings nie neerkom op haatspraak nie. Regter Roland Sutherland het vandag beslis dat die SAMRK se 2019 bevinding dat Malema nie haatspraak gepleeg het tydens ’n 2016 byeenkoms nie, tersyde gestel moet word. Die hof het verder bevind dat die SAMRK nie bindende magte het om bevele of bevindings te maak nie. AfriForum het hierdie saak nadruklik met kostes gewen.

Die uitsprake deur Malema, wat hier ter sprake is, was in 2016 gemaak tydens ’n byeenkoms in Newcastle toe hy onder meer gesê het: “We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.” AfriForum het in 2019 hofstukke ingedien om die SAMRK se besluit, dat hierdie uitsprake nie haatspraak is nie, op hersiening te neem.

“Hierdie is ’n dubbele oorwinning vir AfriForum oor die SAMRK, aangesien ons standpunt is dat Julius Malema duidelike haatspraak gepleeg het in 2016, én dat die SAMRK nie bindende magte het nie. Beide is nou deur die hof bevestig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Daar is ’n verdere sukses ter sprake in hierdie groot oorwinning, en dit is dat dit ook die presedent skep dat bevindings deur die SAMRK in die hof aangevat mag word,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings