|

Hartbeespoort-tak rig aanmaningsbrief aan Madibeng Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum se Hartbeespoort-tak het op 13 Junie ’n aanmaningsbrief aan die munisipale bestuurder van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit gerig. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat ’n sloot gegrawe is om rou riool direk na die Hartbeespoortdam te kanaliseer en dat ’n mangat wat oorvloei ook in dié dam inloop.

Die tak eis dat die munisipaliteit die onwettige storting onmiddellik moet staak en voor 17 Julie 2023 ’n aksieplan vir die regstel van dié besoedeling uiteensit en ’n vergadering met AfriForum reël om die plan van stapel te stuur.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie situasie voortduur nie. Dié onwettige rioolstorting is ’n ernstige oortreding; dit beskadig die omgewing en hou ’n gesondheidsrisiko vir mens en dier in. AfriForum se regspan sal die nodige regstappe neem om te verseker dat die krisis opgelos word,” sê Nelis Janse van Rensburg, ondervoorsitter van die Hartbeespoort-tak.

“Dit is belangrik om onmiddellik die rioolstorting wat die munisipaliteit willens en wetens veroorsaak stop te sit en ’n plan van aksie uiteen te sit,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Hartbeespoort-tak maan inwoners om waaksaam te wees en die situasie dop te hou. Die tak sal die kwessie monitor en die gemeenskap op hoogte hou.

Indien die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit nie aan hierdie versoek gehoor gee nie, sal AfriForum se regspan die nodige stappe neem.

Kontak Dennis Webster by 082 435 5636 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings