|

Helderbergkom-tak kweek kultuur van verantwoordelike padgebruik onder dié kleuters

AfriForum se Helderbergkom-tak het ’n proaktiewe benadering tot padveiligheid geneem deur onlangs ’n groep kleuters op te voed oor die belangrikheid van verantwoordelike padgebruik. Dié tak het op 19 April die Helderberg Kids-kleuterskool besoek met inkleurprente, lekkernye en waardevolle inligting wat dié kinders voorts gaan help om paaie veilig te gebruik.

Ongeveer 30 kleuters het gretig geluister na die basiese beginsels van padveiligheid. Die Helderbergkom-tak het onder meer inkleurprente en praktiese voorbeelde gebruik om verantwoordelike padgebruik te illustreer. Sommige kleuters moes vir die res van die klas wys hoe hulle ’n voetoorgang moet oorsteek. Hiermee saam is die kleuters geleer oor die belangrikheid daarvan om maklik sigbaar vir motoriste te wees en om altyd op te let voor, tydens en ná hulle ’n pad oorsteek. Met behulp van die Helderbergkom-tak is hierdie inligting op ’n eenvoudige en prettige manier aangebied, wat dit vir die kinders maklik gemaak het om te begryp.

“Padveiligheid is ’n belangrike kwessie wat talle mense, ongeag ouderdom, geslag of sosiale status, raak. Die statistieke oor padongelukke in Suid-Afrika is kommerwekkend, en dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid om op te tree om die aantal sterftes op ons paaie te verminder,” sê Marinda Prinsloo, jeugvoorsitter van AfriForum se Helderbergkom-tak.

“Vroeë en omvattende opvoeding oor die belangrikheid van padveiligheid is een van die doeltreffendste maniere om hierdie kwessie aan te spreek. Aangesien kinders die toekoms van Suid-Afrika is, moet ons hulle toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om hulself en ander op die pad veilig te hou. Hierdeur beskerm ons nie net hul lewens nie, maar kweek ons ook ’n kultuur van verantwoordelike padgebruik. Dit is een van vele goed wat dié AfriForum-tak doen om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing te skep.”

Lede van die gemeenskap kan www.wordlid.co.za besoek om meer oor die Helderbergkom-tak en sy gemeenskapsprojekte te wete te kom.

Soortgelyke plasings