|

AfriForum lewer pleidooi aan die Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte oor die skending van Suid-Afrikaners se reg op water en sanitasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n versoek aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater en sanitasie gerig, waarin hy gevra word om aandag aan die grootskaalse skending van Suid-Afrikaners se reg op toegang tot water en sanitasie te skenk.

AfriForum meen dat die vervulling van Suid-Afrikaners se reg op toegang tot water en sanitasie ernstig bedreig word deur die uiters swak toestand van Suid-Afrika se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land. AfriForum is al etlike jare besig met verskeie strategieë en hofaansoeke om kwessies soos die gebrekkige kwaliteit van drinkwater, sukkelende munisipale rioolstelsels en toegang tot water aan te pak, maar as gevolg van die regering se traak-my-nie-agtige houding raak die probleme net al groter. Indien die spesiale rapporteur verdere ondersoek sou instel, sal die regering hopelik die erns van die waterkrisis besef.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, staan Suid-Afrika op die punt van ’n waterineenstorting. “Suid-Afrika is ’n waterskaars land met uiters beperkte waterhulpbronne, so dit is van kardinale belang dat dit doeltreffend bestuur moet word. Die bewyse toon egter die teenoorgestelde. Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se eie drinkwatergehalteontledings dui byvoorbeeld daarop dat 51% van drinkwaterstelsels ’n swak of slegte mikrobiologiese watergehaltestatus het en 71% het daarin misluk om chemiese voldoening te bereik. Net so onrusbarend is die feit dat 334 munisipale rioolafvalwaterbehandelingswerke in 2022 as in ’n kritieke toestand verklaar is, of dat 46% van die beskikbare water wat op ’n nasionale vlak aan munisipaliteite voorsien word as gevolg van lekke in die verspreidingsnetwerk verlore gaan,” sê De Klerk.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, sê verder dat, ten spyte van hierdie verdoemende bewyse, die verdere rede tot kommer is dat dit blyk dat die regering geen daadwerklike stappe doen om die krisis op te los nie. “AfriForum is betrokke by tientalle gevalle waar munisipale amptenare nie hulle wetlike verpligtinge uitvoer nie; uiteindelik wend die publiek hulle tot die howe en’n hofbevel gelas dat ’n munisipaliteit sekere stappe moet neem, maar dan word dit eenvoudig deur die munisipaliteit geïgnoreer. Of die DWS word beveel om in te gryp, maar keer op keer word beloftes gemaak en tweede kanse vir munisipaliteite gegee. Jare gaan verby sonder enige verandering op voetsoolvlak,” sê De Vaal. “Uiteindelik is dit die publiek wat daaronder lei en selfs met hul lewens daarvoor boet, soos wat die dood van 43 mense gedurende die onlangse cholera-uitbreking gewys het. Ongelukkig kan die cholera-uitbreking nie as ’n verrassing beskou word nie, want dit is bloot die simptoom van ’n stelsel wat verbrokkel.”

Daarom is hierdie versoek aan die spesiale rapporteur ’n poging om die sistemiese probleme ten opsigte van waterbestuur en dienslewering te takel. “As mens na die geheelbeeld kyk, word die omvang van die krisis duidelik – wat strek van die besoedeling van varswaterbronne tot die substandaardgehalte van drinkwater, langdurige onderbrekings in watervoorsiening en diskriminasie ten opsigte van toegang tot water en sanitasie. Dit skets ’n kommerwekkende prentjie,” sê De Vaal. “Om voormalige VN-sekretaris-generaal Dag Hammarskjöld aan te haal: ‘The United Nations was not created in order to bring us to heaven, but in order to save us from hell.‘”

Die spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater en sanitasie is ’n onafhanklike deskundige met ’n mandaat van die VN se Raad vir Menseregte om verslag te doen en advies te lewer oor kwessies wat die bevordering en beskerming van die mensereg op toegang tot water beïnvloed. Die spesiale rapporteur kan klagtes wat aan hom gerapporteer word ondersoek, ter plaatse besoeke aflê, formele verklarings van regerings eis en op die internasionale verhoog voorspraak maak vir die bevordering van menseregte.

Soortgelyke plasings